News

Dorp treur oor een van sy grootste muurballegendes

Dorp treur oor een van sy grootste muurballegendes

   

 

“Woorde is min! Dit het so vinnig gebeur….Ons was nog nie reg vir dit nie!” “Jou plek in ons harte is leeg en seer.” Met dié hartroerende woorde is die ongelooflike skok verwoord van die dood van een van Parys se grootste muurballegendes, Elize Prinsloo, wie Saterdagmiddag in ’n motorongeluk op die N1 gesterf het.

Elize en haar man, Gert, was die middag onderweg van Vanderbijlpark na Parys toe ’n bestuurder in die aankomende verkeer wat van Kroonstad-kant af gekom het, oënskynlik beheer oor sy voertuig verloor, en oor die middelman beweeg het om reg van voor met die Prinsloos se motor te bots. Die botsing was ongeveer 15:30, skaars 20 minute nadat Elize nog ’n boodskap op die muurbalgroep se WhatsApp-groep geplaas het.

Beide Elize en Gert is van die ongelukstoneel na die Emfuleni Medi Clinic geneem waar Elize aan haar beserings beswyk het. Gert is later na die Milpark-hospitaal oorgeplaas met onder meer ‘n gebreekte arm en gewrig en veelvuldige ribfrakture.

Elize was oor jare die hartklop en ritme van sukses van Parys se muurbalklub, maar ook in SA Muurbal waar sy diep spore getrap het. Iemand wat ongelooflik toegewyd was tot aan die einde. Onder haar afrigtershand het die klub jaarliks tussen 18 en 25 provinsiale spelers opgelewer wat aan die SA’s deelgeneem het. Van haar spelers het selfs in internasionale toernooie uitstekende prestasies behaal.    

Van die dogtersspanne wat sy afgerig het, het verskeie jare gekwalifiseer om aan die prestige Top Schools muurbaltoernooi in Pietermaritzburg deel te neem. ’n Klub wie se spelers nie net in die Vaaldriehoek nie, maar oor die land raakgesien is tussen die spelers van groter gerekende skole.

Die impak en sukses wat Elize by die Parys-muurbalklub behaal het, kan nie gemeet word nie, het Robert Thompson, voorsitter van die klub Sondag gesê. Syself was ’n baie talentvolle muurbalspeler wat in die tagtigerjare saam met van die klub se ander spelers die Vaaldriehoek by die SA’s verteenwoordig het.

 

So sal Parys Elize Prinsloo onthou – toegewyd op die muurbalbaan waar sy die hartklop en ritme van die Parys-muurbalklub was. 

 

Maar dit was nie net op die muurbalbaan waar sy op oud en jonk ’n onuitwisbare indruk gelaat het nie. Vir die talle kleuters vir wie sy Playball en Playgolf gegee het, was sy hul tannie Elize.

Iemand wat met haar glimlag, en sagte hart, jou geleer het van uithou en aanhou. Veel meer as net ’n afrigter. Iemand wie se geloofslewe vir ander ’n inspirasie was.

Sy’t spore gelaat in die lewens van sovele kinders, maar ook in besonder in die harte van haar man, kinders en kleinkinders vir wie sy so lief was en soveel hartsoomblikke gedeel het.

In die huldeblyke wat na haar dood letterlik ingestroom het, is die hartseer van ’n gemeenskap waar Elize se skielike dood ’n oneindige leemte laat, so raak verwoord in die woorde van Gusta Loggenberg – “Kan nie wees nie…my hart is stukkend en my lyf ruk. My gunsteling sielsgenoot, maat, afrigter, ons rolmodel.”  

Ons diepe medelye aan haar gesin en familie – Parys Gazette redaksie

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button