NewsNews

Apteker se liggaam in Boskopdam gevind

Apteker se liggaam in Boskopdam gevind

George Dannhauser (37), ‘n apteker van Potchefstroom ook bekend as Org, wat sedert gisteroggend (Woensdag, 27 Januarie) vermis geraak het nadat hy op Boskopdam gaan roei het, se liggaam is net na 12:00 vanmiddag (Donderdag, 28 Januarie) deur polisieduikers uit die water gehaal.

 

Personeel van Tanglewood Nature Estate het gisteroggend onraad vermoed toe hulle ‘n omgekeerde kajak naby die oewer van die dam gesien het. Tanglewood is ʼn kampeeroord 12 km buite Potchefstroom aan die oewer van die Boskopdam.

 

Volgens Kapt. Sam Tselanyane, woordvoerder van die polisie in die Noordwes, het Dannhauser en ‘n vriend gisteroggend ongeveer 8:00 met hulle kajakke op die dam gaan roei. Na bewering was die water onstuimig weens ʼn sterk wind. Die vriend (59) het omgedraai terwyl Dannhauser nog verder geroei het.

Kapt. Tselanyane sê polisieduikers was gister van 11:00 – 23:30 opsoek na Org en dat ʼn helikopter en AfriForum se hommeltuie ook in die soektog ingespan was. Potchefstromers het by hulle aangesluit om te help soek. Vroeg vanoggend was Noordwes polisieduikers, die brandweer van Potchefstroom, die soek-en-reddingspanne van die honde-eenheid en selfs berede op die toneel om verder te soek.

“Die feit dat niemand presies geweet het waar Dannhauser uit sy boot geval het nie, het die soektog moeilik gemaak”, het Tselanyane gesê. ʼn Omstander het ook gesê dat lang gras en riete in die water naby die oewer die soektog verder moeilik en gevaarlik gemaak het.

Kapt. Tselanyane sê Dannhauser se liggaam is ongeveer 30 meter gevind vanwaar sy omgekeerde kajak die eerste keer gesien is.

Dannhauser is die tweede persoon in die afgelope twee weke wat in Boskopdam verdrink het. Verlede Woensdag (20 Januarie) het ‘n sestienjarige seun, Siswe Mokunke, verdrink toe hy saam met vriende naby die pomphuis aan die oorkant van die dam geswem het.

 

Related Articles

Back to top button