NewsNews

“Hy was ’n dromer”

Huldeblyk vir geliefde sakeman

     

Covid-19 het die afgelope week  in ’n oogwink ook die lewe van ‘n geliefde pa, oupa en sakeman van Parys ge-eis. Leon Smit, is Dinsdag, 19 Januarie, in die ouderdom van 55 jaar oorlede. Leon se suurstofvlakke het binne ’n dag nadat hy siek geword het, met wat net gelyk het na ’n ligte verkoue, begin daal, en is hy die Maandag per ambulans na die Netcare-hospitaal in Vaalpark geneem waar hy binne 24 uur gesterf het. Benewens hoë bloeddruk en dat hy asmaties was, was hy ’n sterk en gesonde man wie se dood ’n groot leemte laat vir sy gesin, familie en vriendekring.

Leon was ’n familie-mens wat gelewe het vir sy vrou, sy dogters en kleinkinders. ’n Man, pa en oupa duisend – ’n regte terggees wat altyd gereed was om iemand se siel uit te trek. Hy was iemand wat lief was vir mense, wat graag wou help. Iemand wat ’n hartsplek gehad het vir veral ouer mense oor wie hy altyd besorg was en wou help waar hy kon.

In Bloemfontein het hy sy eerste lewenstreë gegee, en daarna saam met sy ouers na Potchefstroom verhuis waar hy in 1984 gematrikuleer het. Daarna sluit hy aan by die polisiediens tot 1988, en trou hy en Desré op 16 Desember 1989 in Vredefort. Hulle vestig hulle in Richardsbaai waar Leon by RBM hom bekwaam as passer-en-draaier in 1991. Met sy pa se afsterwe vestig Leon en Desré hulle in Parys om sy ma te ondersteun, en koop hulle Parys Droogskoonmakers.

Kort daarna begin hulle ook Heilbron Droogskoonmakers. Verskeie ander besighede het daarna gevolg wat deur hulle begin is, waaronder Vaal Kredietinvorderings, SMC Finansiële Dienste met altesaam 9 takke en ook twee opkomende besighede.

Sy groot liefde vir jag, visvang en die natuur, sy skape en beeste, het hy gedeel met sy gesin met kosbare onthou-tye. Vir hom het sy familie altyd eerste gestaan en sou hy alles in sy vermoë doen om seker te maak dat hulle versorg sou wees. Hy wou altyd almal tevrede stel. ’n Vredemaker, ’n dromer wat groot drome gehad het. Met sy 20 werknemers het hy ’n goeie verhouding gehad. Altyd gereed om ’n grappie te deel.

Sy skielike heengaan laat hartseer in baie harte en sal hy baie gemis word deur sy vrou, Desré, dogters Lizelle en Leoné, sy skoonseun, Carlo, en kleindogters Leanté en Zané.      

Related Articles

Back to top button