NewsNews

Total het planne om rioolbesoedeling te stop

Total het planne om rioolbesoedeling te stop

Die voortslepende rioolbesoedeling by die N12 Total vulstasie wat die grondwater en wonings in die direkte omgewing van die Wilge Hoërskool besoedel, is steeds nie opgelos nie, maar Total het bevestig dat planne in plek is om die besoedeling te stop.

Volgens die DA-raadslid van Wyk 3, Anné van Onselen, het die probleem reeds in 2018 begin, ‘n ruk nadat die Total vulstasie in werking was.

Volgens haar was die aanleg ongelukkig net goed op papier en werk dit nie reg nie. Die Herald het juis verlede jaar in Januarie laboratoriumuitslae van Enviro Care Laboratory bekom wat bevestig het dat die water nie geskik is vir gebruik nie omdat dit met riool besoedel is.

Anné wat die raad van die munisipaliteit ingeroep het, sê ‘n werknemer van die water- en riool-departement het bevestig dat die vulstasie se rioolopgaartenk te klein is. Die water wat oorloop word nou met ‘n pyp na ‘n gronddam herlei wat noord, direk langs die vulstasie, gegrawe is. Dié dam is ook nie groot genoeg om die hoeveelheid water te dra nie daarom loop die rioolwater nou van daar af weer oor in die grondpad (Kanaalweg) wat langs die vulstasie verbyloop. Volgens die werknemer is die enigste oplossing om die rioolopgaartenk gereeld leeg te maak.

Die gronddam waarin die oorloopwater inspoel is met alge besmet en is ‘n gesondheidsrisiko. Foto: Venessa van der Westhuizen

Die Herald het met Sybert Louw, een van die inwoners van ‘n meenthuiskompleks naby die Total vulstasie gepraat wat deur die besoedeling geraak word. Hy vertel dat die water groot damme in die grondpad vorm wat tot teenaan die mure van die kompleks spoel en ’n verskriklike stank veroorsaak. “Inwoners is ook sat vir die groot lawaai wat die motors veroorsaak wanneer hulle in die modderpad vasval en het daarom versoek dat die pad gesluit moet word,” sê hy.

Die stinkende rioolwater vorm groot damme in die grondpad waarin die motors vasval en vloei tot teenaan die meenthuise in die omgewing. Foto: Venessa van der Westhuizen
Die grondpad (Kanaalweg) langs die vulstasie is vir inwoners gesluit omdat motors in die rioolmodder vasval. Foto: Venessa van der Westhuizen

Anné erken dat sy die munisipaliteit genader het om die pad te laat sluit om te keer dat mense aan die rioolwater blootgestel word. Werknemers van die departement gesondheid van die Dr. Kenneth Kaunda distrik het verlede week die vulstasie besoek om ondersoek in te stel en  ’n verslag saamgestel waarin hulle bevind het die dam is ’n broeiplek vir groen alge wat ’n gesondheidsrisiko inhou. Hulle het ook swart afsaksel in die water opgemerk wat hulle aan patogene in die water toeskryf en verder bevestig dat die dam ’n broeiplek vir muskiete is. Verder het hulle ook ’n slegte reuk aangeteken en het bevestig dat die besoedeling die Dr. Kenneth Kaunda distriksmunisipaliteit se gesondheidsbywet van seksie 9 (a)(b) en (c) oortree.

‘n Verslag van Kenneth Kaunda se gesondheidsdepartement sê die swart in die water is ‘n aanduiding van patogene in die water. Foto: Venessa van der Westhuizen

Mariëtte Liefferink, die hoof uitvoerende beampte van die federasie van ‘n volhoubare omgewing, het die besoedeling by Total ook by die Gautengse departement van water en sanitasie gerapporteer, waarna hulle bevestig het om watertoetse op 29 Januarie by die perseel uit te voer. Die Herald het Total weer vir kommentaar genader, waarna hulle sekere verklarings gemaak het. Hulle skryf die oorsaak van die besoedeling toe aan wysigings wat aan die waterafvalsisteem gemaak is en ’n invloed het op die water wat in die gronddam langs die vulstasie gepomp word. Hulle sê ook dat die septiese tenk oorloop as gevolg van blokkasies, maar dat dit nou uitgesorteer is. Hulle het maatreëls in plek gestel waar hulle ’n Hazmat-maatskappy aangestel het om die water in die dam langs die vulstasie te verwyder en by die munisipale afvalwaterbehandelingsfasiliteit sal stort. Daarmee saam sal die Hazmat-maatskappy ook die grond wat deur die water besoedel is, behandel. Verder het die mediaverklaring bevestig dat Total reeds op 3 Desember 2020 met die JB Marks munisipaliteit en die provinsiale departement van omgewingsake in verbinding getree het om ’n permanente oplossing vir die rioolprobleem te kry. Hulle het ook onderneem om onder meer die septiese tenk by die vulstasie op ’n daaglikse basis te dreineer en die rioolaanlegsisteem te herstel. Daarna wil Total aansoek doen om by die munisipale rioolstelsel aan te sluit.

https://potchefstroomherald.co.za/82834/total-het-planne-om-rioolbesoedeling-te-stop/

Related Articles

Back to top button