NewsNews

Egpaar sterf binne twee weke na mekaar

Egpaar sterf binne twee weke na mekaar

“Ons harte is stukkend, dit was te gou, hierdie leemtes sal nooit gevul kan word nie. Dankie vir wie julle was, ons sal altyd die herinneringe koester. Ons is onbeskryflik lief vir julle.” Dit is die boodskap van die kinders en skoonkinders aan hul ouers, Adri en Willem Jansen van Vuuren, wat binne ‘n tydperk van twee weke na mekaar gesterf het. Die familie het ook almal bedank vir die ondersteuning en bystand deur hierdie moeilike tyd.

VANDERBIJLPARK. – Saterdag gaan ‘n baie hartseer dag wees wanneer hierdie gesin hul ma en pa ter ruste moet lê. Adri (52) en Willem Jansen van Vuuren (54) was ‘n bekende en geliefde egpaar van die Vaaldriehoek en om dié rede sal daar twee aparte begrafnisse, twee ure na mekaar, wees om meer mense die geleentheid te bied om afskeid te neem.

Adri was vir jare ‘n bekende gesig as assistent bestuurder by Xtra Shoes & Clothing in Vereeniging en Vanderbijlpark. Willem was ‘n bekende plaaslike prokureur wat sy eie praktyk in Vereeniging gehad het.

Die egpaar, hul kinders en skoonkinders het Kersfees saam met ander familielede op ‘n plaas in Potchefstroom deurgebring. Die familielede van die plaas het sowat twee maande tevore Covid-19 onder lede gehad, maar was teen Kersfees glo gesond. Kort na Kersfees het Adri egter siek begin word. Sy was ‘n Lupus en MS lyer en haar immuunstelsel was dus swak. Sy het ook nie gedink sy het die vrius onder lede nie. “Om die rede het my skoonma besluit dat sy haarself by die huis gaan behandel in stede daarvan om dokter toe te gaan en moontlik die virus daar te kry,” vertel Izaan.

In die vroeë oggendure (omstreeks 03:00) van 4 Januarie het Adri opgestaan om badkamer toe te gaan. Toe sy later teruggaan kamer toe, het sy op die kant van die bed gesit. Willem was wakker toe Adri net skielik agteroor val en sterf. Adri is nie vooraf vir Covid-19 getoets nie en op haar doodsertifikaat staan dat sy aan natuurlike oorsake: hartaanval oorlede is.

Willem wat ‘n diabeet was, het egter later dieselfde dag begin koors kry en moeg voel. Daar is eers vermoed dat hy net aan skok ly en dat die diabetes hom affekteer, maar teen Woensdag (6 Januarie) was hy so swak dat ‘n ambulans ontbied moes word. Willem is na die Vaalpark Netcare-hospitaal geneem en dadelik in die Intensiewe Sorgeenheid opgeneem en vir Covid-19 getoets. Sy uitslag was positief.

Een van die gesinsfoto’s wat die kinders nou vir ewig sal koester.

Die kinders: oudste seun Wayne Oosthuizen en sy vrou Izaan, asook Julian Oosthuizen en sy vrou Alet, het hulself dadelik laat toets vir die virus. Kleinsus Anika Jansen van Vuuren (19) en haar kêrel het geen simptome ondervind nie en het nie vir toetse gegaan nie. Wayne en Alet het positief getoets. Hulle het egter nie erge simptome ervaar nie en het so te sê reeds herstel.

Intussen het Willem se gesondheid agteruit gegaan. Hy is aan ‘n ventilator gekoppel en op 8 Januarie is die gesin gekontak en aangeraai om te gaan afskeid neem.
“Ons was baie dankbaar om die geleentheid te kry en waardeer hoe goed die personeel na my pa omgesien het,” vertel Izaan. Die gesin het die ergste verwag, maar toe begin Willem se gesondheid effens verbeter. Die volgende week was daar weer hoop, maar dit was van korte duur. Willem het uiteindelik ook nierversaking gekry en is Sondagoggend omstreeks 04:00 oorlede.

* Die verassingdienste vir Adri en Willem word Saterdag vanuit die Gereformeerde Kerk Sonlandpark gehou.

Die Vaal staan nog ‘n geliefde egpaar aan die dood af. Adri en Willem Jansen van Vuuren is binne ‘n tydperk van twee weke na mekaar oorlede.

https://vaalweekblad.com/84599/egpaar-sterf-binne-twee-weke-na-mekaar/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button