NewsNews

Ngwathe amnestieproses nou van krag

Die beleid waarkragtens skuldverligting van 50% aan verbruikers  van Ngwathe Munisipaliteit met agterstallige rekeninge voorwaardelik verleen word, is tans in volle gang. 

   

 

Die beleid waarvolgens skuldverligting van 50% aan verbruikers  van Ngwathe Munisipaliteit met agterstallige rekeninge voorwaardelik verleen word, is tans in volle gang. Die proses vereis van so ‘n verbruiker om 50% van die verskuldigde bedrag eenmalig te betaal en om hom/haar te verbind om daarna sy/haar volle maandelikse verbruikersrekening voluit te betaal vir minstens die volgende 12 maande. Die munisipaliteit skryf dan die ander 50% af op voorwaarde dat die verbruikersrekening wel stiptelik ooreenkomstig die ooreenkoms betaal word. Gebeur dit nie en versuim die verbruiker om die ooreengekome betalings volledig te doen, verval die afskrywing en word die “afgeskryfde” bedrag weer by die rekening gevoeg.   Ngwathe moes volgens VF Plus Raadslid Phillip van der Merwe ‘n drastiese poging aanwend om verbruikers te oortuig om hul maandrekeninge stiptelik te betaal en het daarom op die amnestieproses besluit. Hy wys daarop dat die munisipaliteit vir Oktober 2020 byvoorbeeld slegs daarin kon slaag om 59% van die erfbelasting te vorder waarvoor rekeninge gelewer was. Vir dienste (water, krag, (nie voorafbetaalde krag), rioolgelde en vullisverwyderingsgelde was die betaalkoers nog laer op 53%.  

“Die munisipaliteit kan eenvoudig nie sy verpligtinge nakom indien verbruikers nie hul belasting en dienstegelde betaal nie” sê raadslid Van der Merwe. Weliswaar kla inwoners (en baie met goeie reg) oor swak dienslewering, maar min wil erken dat goeie dienslewering slegs moontlik is indien die munisipaliteit die inkomste ontvang waarop hy daarvoor staatmaak. Inwoners wat ‘n groot bydrae tot die betalingswanbalans maak is diegene, en daar is baie van hulle, met voorafbetaalde kragvoorsiening wat slegs krag koop en geen ander dienste betaal nie. Dit is dan ook hierdie soort optrede wat die Raad genoop het om onlangs weer die 60/40 verdeling op die kragaankope van diegene met agterstallige diensterekeninge toe te pas.

Die proses het byvoorbeeld vir Desember 2020 gesorg vir verhaling van ongeveer R 1 170 000,00 aan agterstallige diensteskuld  – geld waarvoor die verbruikers wat wel gereeld en voluit betaal andersins sou moes instaan.  

Volgens raadslid Van der Merwe is daar tans ook nog baie boere wat geensins hul erfbelasting betaal nie. Hier moet in gedagte gehou word dat aan plaaseiendom, juis omdat min munisipale dienste aan sulke eiendomme gelewer word, reeds ‘n algemene korting van 80% op belastingtariewe gegee word. “Ek wil ‘n beroep doen op plaaseienaars om gebruik te maak van die amnestieproses om ou skuld deels afgeskryf te kry,” sê rdl. Van der Merwe.  

Hy sê ook grondeienaars moet in gedagte hou dat belasting eise eers na 30 jaar verjaar. Wanneer ookal ‘n eiendom dus in die toekoms oorgedra sou word, hetsy as verkoping of erflating, sal tot 30 jaar se uitstaande erfbelasting heffings eers betaal moet word voor die eiendom oorgedra kan word. So moes ‘n verkoper onlangs uitvind dat R90 000,00 se skuld op ‘n plaaseiendom eers betaal moes word voordat oordrag kon geskied – ‘n nare onverwagte gewaarwording.  

 

       

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button