NewsNews

Grondgrype naby Paws

Grondgrype naby Paws

 
Potchefstroom – Ongeveer ‘n 100 mense uit Ikageng het Dinsdagoggend ‘n stuk grond aan die suidelike gedeelte van Viljoenstraat in die Mooibankarea onwettig betree om standplase uit te merk en strukture op te rig.
 
 
Du Toit sê dat hy vroeër  met die munisipale bestuurder, Lebu Ralekgheto, gepraat het wat aan hom die versekering gegee het dat die munisipaliteit ‘n klag by die polisie gaan lê sodat hulle kan keer dat mense die grond onwettig beset.   Die area wat betree is, is langs ‘n grondpad ongeveer 1km van Paws se indraai geleë. Die besetters het in verskeie voertuie en taxi’s opgedaag wat hulle langs die grondpad parkeer het. Sommige toeskouers het by voertuie gewag terwyl die res van die betreders in die lang gras ingevaar het.
Besetters se voertuie langs die pad. Foto: Venessa van der Westhuizen

Een van die omstanders, Itumeleng Maleme, het vertel dat hy ‘n inwoner van Gugulethu in Sarafina is. Dié informele nedersetting is ook onwettig in Sarafina opgerig. Volgens Maleme wil die stadraad Gugulethu skuif omdat daar planne van die munisipaliteit is om in hulle area ‘n skool op te rig. Hy het ook bevestig dat wyksraadslede in Ikageng deeglik van die onwettige besetting bewus is en dat hulle die onwettige besettings in die Mooibankarea goedkeur.

Itumeleng Maleme in die voorgrond terwyl die onwettige besetters van hulle ekspedisie terugkeer.

Die Herald wou met een van die raadslede bevestig wat die stand van sake is, maar is weggewys en hy wou glad nie hê dat foto’s geneem word nie. Johan Zerwick, DA-raadslid van JB Marks, sê hy is van gister af met sms-boodskappe oorweldig van mense uit Ikageng wat wil weet waar die lys is waar hulle, hulle name vir die erwe kan opgee. Zerwick sê hy is nie verbaas as raadslede hierby betrokke is nie: “Dit is ‘n verkiesingsfoefie om guns te wen vir vanjaar se verkiesing”, sê hy. Volgens die kommunikasiewoordvoerder van die JB Marks munisipaliteit, William Maphosa, word valse gerugte versprei dat raadslede lyste opstel vir erwe wat by Mooibank uitgesit word. Maphosa het bevestig dat slegs munisipale personeel by departement Behuising hierdie taak mag verrig. “Die valse en gevaarlike inligting is daarop gemik om niksvermoedende inwoners uit te buit vir selfsugtige en onwettige politieke doeleindes”, sê Maphosa. Volgens hom het die munisipaliteit op die oomblik geen erwe om toe te ken nie. “Indien erwe beskikbaar is, sal inwoners deur die regte offisiële kanale ingelig word. Ons waarsku wetsgehoorsame inwoners om nie mislei te word nie.”

 
 

 

Related Articles

Back to top button