News

Hele dorp se kragtoevoer en watervoorsiening sal môre geraak word

Daar word gewerk aan transformator

 

 

 

Kragtoevoer na die hele Parys sal môre, Woensdag 6 Januarie  onderbreek word van 07:00 tot 18:00 en sal watervoorsiening vir die dorp noodwendig ook geraak word. Maak daarom asseblief voorsiening vir drinkwater en beskou alle kragpunte as lewendig tydens die onderbreking van kragtoevoer.   Daar is reeds in Desember kennis gegee van die beplande onderbreking en het Eskom vanoggend met die Ngwathe bestuur vergader. Eskom het in  November verlede jaar onder eed bevestig  dat hy besig is met herstelwerk aan sy tweede transformator in die Eskom-substasie in Parys. Die kragreus het aanvanklik  geweier om die herstelwerk te doen totdat Ngwathe sy skuld aan Eskom betaal. Die weiering het veroorsaak dat Eskom sedert Junie verlede jaar sy enkele werkende transformator moes “beskerm”  teen oorlading deur  die dorp se kragtoevoer te sny sou Ngwathe die 20MVA wat die werkende transformator voorsien, oorskry het. Dit het die munisipaliteit genoodsaak om self kragbeheer toe te pas deur gedwonge rotasie beurtkrag, met ernstige gevolge vir die dorp se sakelui en inwoners.

 

In samesprekings Woensdag 11 November 2019, tussen Eskom se regspan, en die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskapsaksie (Vaal River Development Association) se adv. Danie Wijnbeek en Lou van Wyk as opdraggewende prokureur, is bevestig dat Eskom voortgaan met die herstelwerk aan die transformator in oorleg met regter Millar se vroeëre hofbevel. Die uitgangspunt was dat Eskom nie elektrisiteitsvoorsieningsbeperkings sal toepas nie, en  voortgaan met die herstel hangende die appélhof beslissing in die saak tussen Eskom en die Vaal River Development Association en Lekwa Belastingbetalersvereniging.

 
 

Parys se kragstryd Die gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (NMD) vir Parys is tien jaar laas aangepas, en hoewel Ngwathe aansoek gedoen het om verhoging van die NMD, het Eskom aangedui dat die verhoging van NMD nie outomaties goedgekeur word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer en die kragreus nie tevrede is dat Ngwathe hou by sy destydse aanvaarde afbetalingsplan nie. Hoewel daar tussen 2011 en 2019 aanmanings van Eskom se kant was dat Ngwathe sy skuld moet betaal wat alreeds R1,3 miljard beloop het in Augustus, en daar in die verlede deur hofbeslissings verhoed is dat Ngwathe se krag afgesny is, was daar nog nooit verdere aksie deur Eskom teen Ngwathe geneem nie. Tot Mei vanjaar toe oorlading by die beheerkamer van die Eskom-substasie in Parys groot skade veroorsaak het en Eskom voet neergesit het. Intussen het Ngwathe volgehou dat hy wel hou by die afbetalingsplan aan Eskom. ‘n Gewysigde afbetaalplan is egter in Desember 2019 deur Ngwathe se hoof finansiële beampte aan Eskom gestuur wat nie deur Eskom afgekeur, maar ook nie goedgekeur is nie. Gevolglik het Ngwathe Eskom se swye as aanvaarding van die plan vertolk, en dienooreenkomstig sy betaling gemaak. Vandaar Eskom se onversetlike houding dat Ngwathe nie hou by die oorspronklike afbetaalplan nie. Eskom het na die vroeëre interim hofbevel van regter Anthony Millar wat Eskom verbied het om verdere kragvermindering in Parys en Vredefort toe te pas, en die kragreus aangesê is om binne 5 dae die transformator te herstel, aansoek om verlof tot appél teen die hofbevel, ingedien. Die saak is daarna na die appélhof verwys vir beslissing, maar kan dit nog ’n baie lang en duur hofstryd wees vir die betrokke partye.    

 

 

Related Articles

Back to top button