NewsNews

Kyk net hoe doen misdadigers hul inkopies

Kyk net hoe doen misdadigers hul inkopies

Die feesseisoen is ‘n ideale tyd vir inbrekers om toe te slaan en hierdie jaar is geen uitsondering nie. Virseker het vyf jaar se Desember inbraakdata geanaliseer om te identifiseer watter items hoog op misdadigers se inkopielys is, wanneer hulle die meeste toeslaan en watter toegangspunte hulle die gereëldste gebruik om toegang tot wonings te verkry.

“Nes baie eerlike Suid-Afrikaners, het misdadigers ook moeilike tye deurstaan met Covid-19 inperkings en baie van hulle kyk na die feesseisoen as ‘n uitstekende geleentheid om ‘n oneerlike rand of twee te maak,” sê Ricardo Coetzee, woordvoerder van Virseker. “Hulle is van nature opportunisties, so wonings wat nie deeglik beveilig is nie is top teikens vir inbrekers. Suid-Afrikaners is dit aan hulself verskuldig om ‘n deeglike sekuriteitsoudit te doen en hulself be beskerm sover hul vermoëns dit toelaat.”

Die volgende tendense staan uit in  Desember eisdata van 2015 tot 2019:

  • Die top 10 items wat gesteel word: TVs, klankstelsels, rekenaars en skootrekenaars, selfone en tabletrekenaars, juwele, kraggereedskap, tuingereedskap, speletjieskonsoles, fietse en beddegoed.
  • 77% van inbrake maak buit van huisinhoud en 23% van buitegebou-inhoud.
  • Toegang word meestal verkry deur vensters, gevolg deur motorhuise, deure, skuifdeure en, in rare gevalle, dakke.
  • Maandae en Woensdae is die mees gewilde dae vir inbrake, gevolg deur Dinsdae en Vrydae.
  • Hoewel inbrake enige tyd van die dag of nag plaasvind, is daar meer inbrake in die baie vroeë oggendure tot rondom 9:00 en weer tussen 12:00 en 15:00.

Volgens Coetzee is daar verskeie opsies om ekstra sekuriteit tot jou huis te voeg wat elke Suid-Afrikaanse huishouding moet oorweeg:

  • ‘n Stewige grensmuur of palisadeheining wat nie alleen privaatheid bied nie, maar ook as eerste lyn van verdediging dien.
  • Goeie hekke en motorhuisdeure wat sterk is en ideaal met afstandbeheer oopgemaak kan word. Dis belangrik dat hierdie hekke en deure vinnig oop en toe gemaak kan word om die geleentheidsvenster vir misdadigers so klein as moontlik te hou. Maak ook seker dat hekke nie van hul spore gelig kan word nie en dat hekmotors veilig versteek is en nie maklik toeganklik is nie.
  • ‘n Elektriese heining wat ‘n ekstra sekuriteitslaag bied en ook as afskrikmiddel dien. Dis belangrik om dit deur ‘n kenner – en in ooreenstemming met veiligheidsregulasies – te laat installeer. Kyk uit vir swakpunte waar die heining maklik omseil kan word deur op ‘n muur te trap of a nabygeleë boom vir hefkrag te gebruik.
  • Sekuriteitstrale (“beams”) wat die area rondom jou woning, sowel as binne jou woning, dek – só opgestel dat verskillende sones geaktiveer kan word soos nodig. Dit dien as ‘n vroeë waarskuwingstelsel, sou misdadigers om of deur die eerste lae sekuriteit kom.
  • Diefwering en sekuriteitshekke op alle deure – stewig vasgemaak sodat dit nie maklik omseil, gebreek of oopgebuig kan word nie. Sommige ouer huise is veral kwesbaar waar die sweiswerk wat diefwering aan die vensterraam vasmaak nie stewig is nie.
  • Klein hondjies in die huis is ‘n hoogs onderskatte sekuriteitsmaatreël, Hulle skerp gehoorsintuig, sig en reuksintuig bied ‘n vroeë waarskuwingstelsel van onskatbare waarde.
  • Dit is slim om jou sekuriteitstelsel aan ‘n goeie gewapende reaksiemaatskappy te koppel en om ook ‘n paniekknoppie aan hierdie stelsel te koppel.
  • Kringtelevisiestelsels word toenemend bekostigbaar en bied ‘n maklike manier vir jou om ‘n oog op jou eiendom te hou – selfs oor groot afstande via ‘n slimfoon app. Sou jy ‘n slagoffer van misdaad word, is dit ook ‘n handige hulpmiddel vir die polisie om misdadigers vas te trek.

Coetzee lig ook die volgende reëls uit vir goeie algemene sekuriteitspraktyk rondom jou huis:

  • Kyk uit vir verdagte voertuie of individue, veral wanneer jy by jou huis ingaan, en stel die owerhede in kennis indien nodig. Beweeg vinnig wanneer jy tuiskom of jou huis verlaat.
  • Varieer jou daaglikse roetine om dit moeiliker te maak vir misdadigers om te voorspel wanneer jy tuis sal wees.
  • Vermy dit om vir misdadigers ‘n voorsmakie te gee van wat in jou huis is deur leë bokse van nuut-aangekoopte items oop en bloot te laat lê, gordyne wyd oop te los of enige deure, insluitend die motorhuisdeur, oop te los.
  • Moenie jou motor- en huissleutels op ‘n plek los waar dit maklik toeganklik is nie – hou dit weggebêre in ‘n veilige plek wat slegs bekend is aan die lede van jou huishouding.
  • Behou ‘n gesonde skeptisisme wanneer jy ‘n kontrakteur of permanente werker in jou huis toelaat – maak seker dat jy ‘n goeie agtergrondondersoek doen.
  • Berg die kontakbesonderhede van alle nooddienste op jou foon of skryf dit neer waar almal in die huishouding maklik toegang daartoe het. Maak seker dat almal weet wat om te doen in ‘n noodgeval.
  • Stel jou sekuriteitsmaatskappy in kennis wanneer jy vir verlengde tydperke nie tuis sal wees nie. Reël met iemand wat jy vertrou om jou huis gereëld te besoek, jou posstukke uit die posbus te haal, plante water te gee en verskillende ligte aan te skakel om die indruk te skep dat iemand tuis is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button