NewsNews

Vrolike volksliedjies vibreer deur O’s

Vrolike volksliedjies vibreer deur O’s

   

 

 

Ai, wat ‘n heerlike aandjie het dit toe geword! En ons kon net ons hande saamslaan oor die goeie opkoms. Nagenoeg 40 persone mense het van Parys en Vredefort en Viljoenskroon gekom om die ATKV-byeenkoms by te woon. Almal wat vir Erna ken, weet sy aarsel nie as sy agter ‘n klavier inskuif nie. Die Yamaha vleuel moes sy speel ken. Sy klawers het behoorlik gedans. En man en muis het uit volle bors saamgesing. Ou FAK- liedere is afgestof en met heimwee weer gesing. Wat ‘n absolute plesier was dit nie ! Almal het dit behoorlik geniet om na Werner van Coller te luister. ‘n Talentvolle tenoor wat maklik suksesvol by enige operahuis kan aanklop. En hy woon op ons voorstoep. Hy het ons behoorlik weggevoer met liedere soos “Malie die slaaf se lied” en “Voshaarnooi” en “Sy is al wat ons het”. Laasgenoemde ‘n pragtige lied oor die aarde van Nataniel. Magda Perry het ou gunstelinge soos “Waterblommetjies” en “Die berggans het ‘n veer laat val” gesing en ons voorgegaan met talle volkswysies. Heerlik nostalgies! Natuurlik het Erna ook sommer ‘n paar gaste nadergewink om te kom voorsing wat die aand ‘n lekker kuiergevoel gegee het.         Corlia Wentink het gesorg vir die letterkunde deur die voorlees van ‘n aangrypend-eenvoudige gedig van Koos van der Merwe “Gebed”. Daarna het die komiese brief van ‘n Griekwa-kind gevolg en toe het sy afgesluit met Hans du Plessis se weergawe van 1 Kor.13 in Griekwa-Afrikaans. Marco van den Berg, streekorganiseerder van die ATKV, was ook teenwoordig en het ‘n paar projekte van die ATKV uitgelig. Dit was ‘n onverbeterlike resep vir ‘n onvergeetlike en sielsverrykende aand! Ons maak binnekort weer so.  

Related Articles

Back to top button