NewsNews

TV-spanne kuier in Parys

TV-spanne kuier in Parys

 

Dit was inderdaad ’n bedrywige week in Parys met sommer twee TV-produksie-spanne wat hier gekuier het. Vrydag was die span van die VIA TV program ‘Boereverneukers’ in Parys waar hulle onder meer met die 98-jarige Bettie Theron van Najaarsrus gesels het. En as jy die insetsel met tannie Bettie wil sien, sal jy moet wag tot Maart 2021. Veral as jy al die naam Willem Goosen gehoor het en al die legendariese stories rondom sy vele ontsnappingspogings. G’n tronktralies kon dié bedrewe inbreker binne hou tussen 1929 en 1969 nie. Sy liefde vir vuurwapens was goed bekend en so ook dat hy nie gehuiwer het om hulle te gebruik as hy vasgekeer is nie.

So word die legende vertel dat hy in 1954 as voortvlugtige ‘n vakansiehuis in Parys gehuur het saam met nog ‘n voortvlugtige, Jan van Vreden. Van Vreden is in ‘n skietgeveg met die polisie dood toe hulle hier vasgetrek is, maar Goosen het weggekom. Hy is in die been gewond, maar toe tog gearresteer toe hy later na die vakansiehuis teruggegaan het. Tannie Bettie se pa, Stoffel le Roux, het die skietery op Goosen beleef waar hy as munisipale amptenaar aan die dorp se hoofstraat gewerk het en Goosen weggekruip het in die bloekombos naby die ou begraafplaas langs die dorp se hoofstraat. Tannie Bettie is ’n gebore en getoë Parysenaar.

Op 23-jarige ouderdom na haar troue, trek sy en haar man uit die dorp. Met die Goosen-voorval was tannie Bettie egter by haar ouers in afwagting op die geboorte van haar vyfde kind. Sy en haar man het in 1987 na Parys teruggetrek. Tannie Bettie sal in 2021, 99 jaar oud wees, maar sy onthou soos gister wat haar pa oor Willem Goosen vertel het.

Met ’n huppel in die stap

Maandag was die produksiespan van die KykNet-program, “Met ’n huppel in die stap” hier toe daar met ’n paar inwoners gesels is oor wat die dorp aan afgetredenes bied. Die program, aangebied deur Riaan, Cruywagen, kyk veral hoe die lewe na 50 nuwe betekenis kry. Die program word op die DSTv-kanaal 144 op ’n Woensdag om 17:30 uitgesaai. Parysenaars kan die insetsel oor Parys vroeg Februarie 2021 verwag.  

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button