NewsNews

Nostalgie uit die verlede: Eerste trein stoom Parys binne

Nostalgie uit die verlede: Eerste trein stoom Parys binne

 

 

Die eens vervalle treinstasie in Parys is vandag een van die suksesverhale wat ’n storie vertel van ’n era toe treine die land vol geloop het. Transnet het in 2001 as deel van sy herstrukturering amptelik die lyn gesluit met Dover wat op die hooflyn was tussen Vereeniging en Bloemfontein. Dié spoorlyn het vier stasies ingesluit, naamlik Weiveld, Calais, Parys en Vredefort. Ná jare se hartseer verval van die eens prag stasiegebou in Parys, is dit na lang onderhandelings met Transnet uiteindelik sowat 10 jaar gelede aan die maatskappy Skyrail Edms (Bpk) verhuur wat as spoorlynspesialiste spoorlyne regdeur die land bou en herstel. Die stasiegebou met sy gewelaansig wat in 1930 voltooi is, is ook pragtig deur die maatskappy gerestoureer teen ’n koste van nagenoeg R300 000 oor ’n tydperk van meer as ’n jaar, waartydens onder meer al die vensterrame met hout vensterrame vervang is om as hoofkantoor van die maatskappy te dien.

Van die ander stasiegeboue op dié lyn is daar vandag weinig meer te sien. So is die Vredefort-stasie toe dit in onbruik geraak het, omskep in ’n kleinhandelwinkel. Aanbouings is gemaak na die spoorlyn se kant toe en was van die oorspronklike stasiegebou nie veel meer oor nie. Die spoorverbinding tussen Dover en Parys is in 1905 voltooi wat daardie jare vir die dorp ongekende groei beteken het omdat dit die dorp meer toeganklik gemaak het vir mense, beide as vakansiebestemming maar ook as nywerheidsentra. Vir stedelinge het dié dorp se rivieroewer en swemplek ’n absolute bekoring ingehou. Graniet wat in die Parys-omgewing gemyn is en waarvoor die dorp ook bekendheid verwerf het met sy unieke ‘pienk graniet’ wat jy ook by die Voortrekkermonument te siene kry, is onder meer by dié stasie gelaai en dan per spoor vervoer.

Die verlenging van die spoorlyn na Vredefort het waarskynlik eers later gekom, bes moontlik ook in die vroeë 1930’s. Vredefort se stasie was nagenoeg 16km vanaf Parys en was die laaste stasie op dié lyn. Vandag is Parys bevoorreg om een van min stasiegeboue in die land te wees wat gerestoureer is. Dié wat wel herstel is, word as koffiewinkels of restaurante gebruik en is Parys relatief uniek in die opsig dat die stasiegebou deur ’n maatskappy gebruik word wat in die spoorlynbedryf is.

 

 

 

 

 

Boonop is ’n spog kunsuitstalling in die unieke atmosfeer van die stasiegebou sowat vyf jaar gelede hier gehou.  

Wie is Skyrail:

Skyrail staan onder die direkteurskap van Paulus Nopeshe en Ryno Beukes met Etienne Beukes as algemene bestuurder. Etienne vertel dat Suid-Afrika van die beste netwerke van spoorlyne in Afrika het en dat passasiers en pakkiedienste die eintlike begin was vir Transnet om spoorvervoer in die land gevestig te kry. Met paaie wat jare terug nog nie so ontwikkel was nie, was spoorvervoer die hoofvervoermiddel van swaar goedere. Skyrail het kantore in Vanderbijlpark, Richardsbaai, die Kruger Wildtuin, Parys en George, en sowat 250 mense in sy diens. Die hele stasiegebou in Parys word as hoofkantoor vir die maatskappy benut. 

  (Foto) Van die groot projekte wat tans deur die maatskappy gedoen word is die Choo-Tjoe (George/Knysna) stoomspoorlyn wat wêreldwyd bekend is. Die spoorlyn is nog tot in 2007 gebruik waarna dit gesluit moes word weens groot skade as gevolg van vloede. Die spoorlyn word nou deur Skyrail herstel.  

 

Dan is daar ook die Kruger Wildtuin-projek waarvoor 13 passasierswaens deur Skyrail voorsien word vir ’n hoteltrein by die Skukuza-kamp. Die hoteltrein maak in Desember oop. Ander groot projekte sluit in die spoorlynonderhoud van die Richards Bay Coal Terminal, en spooronderhoud vir Mittal by sy Newcastle, Vanderbijlpark en Pretoria aanlegte.   Van die maatskappy se groot drome is om die oorspronklike Parys trein wat nou by Reef Steamers staan en deur hulle onderhou word, terug te bring na Parys saam met ’n paar passasierswaens om dit vir ’n plesierrit en toerisme aantreklikheid tussen Parys en Vredefort te laat loop. Maar voor dit kan gebeur moet minstens 20% van die spoorlyn tussen Parys en Vredefort vervang word. Om spoorlyne te herstel kos R10 miljoen per kilometer.

 

* Parys-stasie het op sy dag onder stasiemeester Peet van der Poel pryse gewen vir die mooiste stasietuin. Peet is in Mei vanjaar oorlede en was ’n jarelange Parysenaar.  

   

Related Articles

Back to top button