NewsNews

Die vreugde van gee

Sewehonderd handgemaakte geskenkies vir kinders in nood

Sagte wol in die mooiste, vrolikste kinderkleure lê sag oor soms kromgetrekte artritis vingers. Brei- en hekelnaalde flits van kant na kant en ry na ry. Oumenshande wat werk vir kindervreugde. Dit is hoe 34 bejaardes van Sally Martin Park die alleen-ure van die grendelmaande-afsondering in positiewe uitreik-ure verander het. Dosyne teddies, komberse, truie, handige sakkies en gebreide honde, lapgesiggies met betekenisvolle uitdrukkings, klere vir klein lyfies. In elkeen van die by die 700 items wat gemaak is, is liefde ingeryg met elke steek wat gewerk is.  

 

 

Die Kindervreugde-projek is vir jare al Sally Martin se trots. Vroeër was dié projek bekend as Pretty Things for Litte Things. Vanjaar is 399 van die 700 items eiehandig deur Susan Maree gemaak, met haar man Willie, wat fluks hand bygesit het met rekke ryg en waar ookal Susan ’n hand nodig gehad het. Hiermee het sy ook die prys gewen vir die meeste items wat vir die projek gemaak is.  

Faith Ferreira se geborduurde truie is beloon met die prys vir die oorspronklikste item wat vanjaar gemaak is, terwyl Judy Smit erkenning gekry het vir die mooiste item met haar spog gebreide komberse.

 

Daar is heel jaar lank hard gewerk aan die items wat gemaak is, en verlede Woensdag is daar oudergewoonte gespog met ’n uitstalling van die Kindervreugde handwerk. Vanjaar was dit hoofsaaklik naaldwerk, brei- en hekelwerk items, en nie ook houtwerk en speelgoed soos ander jare nie. Aan die stuur van die projek was Marian Otto, Cathy du Plessis en Sandra Wessels. Annette van der Merwe, Villeria Roux en Liza Potgieter het met ’n fyn oog elke item beoordeel. Die items wat gemaak is sal nou versprei word as Kersgeskenke by onder meer Basa Park, Gleniffer, vir die Red Ribbon-projek en kinderhuise in Sasolburg en Bethlehem.  

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button