NewsNews

Hier klink die klank van konsertina, trekklavier en kitaar

Hier klink die klank van konsertina, trekklavier en kitaar

Of dit ’n settees, polka, wals, mazurka, kwadriel of vastrap is – hulle laat die voete jeuk in ’n ritme wat jou die musikale hartklop laat hoor van hul liefde vir musiek en die instrumente wat hulle bespeel. Die konsertina- en trekklavierklank vul die motorhuis met vrolike klanke van saamwees as hulle gou ’n nommertjie of twee speel. Hegte vriendskapsbande gesmee deur hul liefde vir musiek. Dit is die Sally Martin-orkes met sy drie lede, Flip Venter, Stienie Kriel en Rika Scott.

“Musikante ruik mekaar uit,” skerts Flip as hy vertel hoe die orkeslede bymekaar uitgekom het een aand met ’n huispartytjie waar musiek gepraat is. Met al drie wat inwoners van Sally Martin Park is, het dit dié drie musikante nie lank gevat om die konsertina, kitaar en trekklavier bymekaar te sit vir Boeremusiekklanke wat jou verstom laat as jy hoor dat eintlik net Stienie note kan lees. Flip het vir die destydse Vaaldriehoekse Vastrap Boere-orkes gespeel wat tot drie jaar gelede nog bestaan het en self ook al by Sally Martin kom speel het. Flip speel nie minder nie as sewe instrumente – die konsertina, trekklavier, kitaar, banjo, penniefluitjie, mondfluitjie en melodika.

Sy indrukwekkende versameling van musiekinstrumente sluit in 18 mondfluitjies, vyf konsertinas, drie trekklaviere, twee banjo’s, vyf blokfluite, ’n molodika en ’n trompie. Rika weer kom uit ’n musikale familie waar beide haar ouers instrumente bespeel het. Sy is self ewe vaardig op die trekklavier, konsertina, mondfluitjie en kitaar. En Stienie is meester van die trekklavier.

Die drie kom een maal per week bymekaar om te oefen en dan is daar een Vrydagaand in ’n maand ‘happy hour’ by Sally Martin wanneer inwoners hul eie orkes kan hoor met van Boere Coutry en volksmusiek tot ligte Afrikaanse musiektreffers. Met inperking kon die drie nie speel nie, maar sedert inperkingsregulasies verslap is, kan daar in die oord vir inwoners gespeel word. Talle aftreeoorde en instansies het hulle al genooi om te kom speel, maar dit sal moet wag tot die inperking verder verslap word.

“Mense het ’n behoefte aan musiek. Dit bring mense bymekaar,” vertel die drie. Dit beleef jy as jy hulle en hul eggenote saam op ’n Vrydagmiddag bymekaar kry.

Vriende wat deur musiekklanke nader getrek is in die net meer as ’n jaar wat hulle saamspeel.  

 En ja, as jy musiek kan maak, bly dans nie ver agter nie, skerts hulle as hul vertel dat Pieter en Stienie eintlik die voordansers is. En dan is Pieter ook sommer hul orkesbestuurder en Ina hul eerlike kritikus en getroue luisteraar as daar saam geoefen word. Maar musiek maak is nie al talente wat dié drie het nie. So met die gesels hoor jy so terloops dat Flip ’n oudbokser op sy dag was saam met die Schutte-broers, as jy vra na die vele medaljes in die motorhuis. Dan is daar ook die Comrades wat Flip 13 keer voltooi het, en Ina agt keer. Daar is die 100 mylers en die ysterman, en selfs agt Argus fietstoere. Vriende wat stories het om te vertel soos die klank van konsertina, kitaar en trekklavier wat in jou siel kom lê.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button