News

Help ook hierdie kinders die vreugde van Kersfees beleef

Help ook hierdie kinders die vreugde van Kersfees beleef

 

Kersfees is ’n tyd van saamwees. ’n Tyd van vreugde, omgee – ’n tyd om te kan gee. Tog is daar ook sovele wat nie vanjaar die voorreg sal hê om Kersfees te vier nie. Soveel kinders vir wie Kersfees net ’n datum op die kalender sal wees. Maar danksy ’n gemeenskap se oop harte, sal ook hierdie kinders Kersvreugde beleef en blinkoog kan wag op Kersvader – wie weet watter vindingryke planne die man met die baard in Covid-tye kan maak. Kinders uit 40 gesinne in Parys na wie daar sedert Maart vanjaar uitgereik is met die Red Ribbon-voedselprojek.

Dit is hierdie 47 kinders en hul mammas wat op Woensdag, 9 Desember op ’n uitstappie na Dimalechite geneem word. ’n Dag wanneer hulle heerlik langs die rivier gaan baljaar, piekniek gaan hou en met worsbroodjies en allerlei lekker bederfies trakteer sal word.

Dan is daar boonop vir elke kind ’n Kersgeskenkie met sy/haar naam op. Wil jy nie help om die dag vir hierdie kinders spesiaal te maak nie? Wat jy ookal kan gee, kan ’n kindergesiggie weer die blydskap van ’n verrassing, en sorgelose speel van kindwees laat ervaar. Weg van moeilike omstandighede.

Dalk wil jy ’n geldjie bydra sodat geskenkies gekoop kan word, of lekkergoed, koeldrank of selfs ietsie vir die nuwe skooljaar wat opgemaak kan word in ’n klein bederfpakkie vir Kersvader se sak. Die kinders se ouderdomme wissel van 1 tot 18 met die meeste kinders tussen 7 en 13 jaar oud. Of dalk wil jy help met ’n skenking vir ’n gevriesde hoender, of groente wat weer in pakkies verpak kan word vir ’n spesiale Kersdagete wat op 24 Desember by elkeen van hierdie 40 gesinne afgelewer sal word sodat hulle self ook ’n spesiale Kersete sal kan voorberei.

Gesinne in nood wat op Kersdag die omgee van ’n gemeenskap op hierdie manier sal beleef. As jy kan help met ’n skenking hetsy vir die Kerspartytjie vir die kinders, of Kersete vir gesinne in nood, kan jy jou bydrae afgee by die Parys Info-kantoor in Waterstraat. Jy kan ook die Info-kantoor skakel as jy navrae het by (056) 811 4000, of Louise by 067278 2860. Alternatiewelik kan jy ’n elektroniese oorplasing doen na die Red Ribbon-rekening met die verwysing, ‘Kersboom’ of ‘Kersete’.

Die bankbesonderhede is: Red Ribbon, FNB Parys, Tjekrekeningnr 62852387490, takkode 230736. Jy kan bewys van betaling stuur na 079 784 5956 sodat die organiseerders betyds kan seker maak elke moontlike bydrae kom betyds by hierdie groot gemeenskapsuitreik. Die sperdatum vir bydraes vir die Kerspartytjie vir die kinders is 5 Desember en die 15de Desember vir die Kersete.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button