News

“Sê vir die mense dit gaan goed met my!”

Blye tuiskoms vir Marné

Jy dink altyd dat ongelukke ver van jou huis gebeur. Tog is Marné Prinsloo se lewe skielik tot stilstand geruk skaars ‘n paar blokke van haar ouerhuis toe sy in ‘n motorongeluk op die h/v Unie- en Kortstraat betrokke was.

Vandag, vyf weke ná daardie oggend op 12 Oktober toe haar ouers die oproep gekry het om te sê dat Marné ernstig beseer is in ‘n ongeluk, kon sy uiteindelik huis toe kom.

Vir Marné  wat ernstige hoofbeserings, bloeding op die brein  en twee gebreekte rugwerwels in die ongeluk opgedoen het, was dit ‘n lang en moeilike pad waarvan die einde nog nie in sig is nie. Maar daar is ‘n groot glimlag en lewenslus as sy opgewonde vertel dat dit goed gaan met haar en sy geen pyn het nie.

Hoewel sy nog ‘n nekstut vir ‘n tyd sal dra en heelwat terapie sessies voorlê, is haar gesin ongelooflik dankbaar vir die herstel wat daar alreeds is en om Marné weer by die huis te kan hê.

Marné is aanvanklik na die ongeluk per ambulans na Potchefstroom vervoer, en toe per noodhelikopter na die Netcare Milpark-hospitaal in Johannesburg, geneem. Op 30 Oktober is sy  oorgeplaas na die Netcare rehabilitasie hospitaal in Johannesburg. En vandag is sy verras met troue vriende wat op haar tuiskoms gewag het, mense wat die pad saam met haar geloop het en saam met soveel ander gebid het vir Marné.

Vra jy haar waarna sy die meeste uitgesien het, vertel dié oudskolier van Hoërskool Parys dat haar grootste wens was om haar oumas en oupas weer te kon sien en die gesin se honde.

   

Related Articles

Back to top button