News

Gemeente vasberade om orrel te red

Gemeente vasberade om orrel te red

Die 45 jaar oue Fehrle en Roeleveld drie-manuaal orrel is nie net die Vredefort NG-gemeente se kroonjuweel nie, maar ook een van die beste orrels in die Vrystaat provinsie. Maar ná 45 jaar het dié waardige ou heer ‘n groot diens nodig om te verhoed dat onherstelbare skade hom onspeelbaar laat. ’n Diens wat die gemeente R80 000 sal kos. Om dié geld bymekaar te kry het die gemeente besluit om ‘n konsertreeks te hou waarmee hulle fondse wil insamel vir die orreldiens.

“Ons is vasberade om ons orrel te red – hy staan sentraal in ons lofprysing en aanbidding”, sê Erna Rademan wat al talle koor- en orreluitvoerings juis op dié gemeente se orrel gelei het. “In ‘n tyd waar orrels so lukraak moet plek maak vir orkeste in kerke, is ‘n manjifieke orrel wat elke Sondag die Here se lof uitjubel, iets wat jaloers beskerm en bewaar moet word,” sê sy.

Die eerste konsert in die spesiale konsertreeks is die afgelope naweek gehou met die Versnit 2020 uitvoering wat die gehoor op die punte van hul stoele gehou het met talentvolle kunstenaars soos Stefan Louw, Carli D’Alebout en Matthys Coetzee.  

Tenoor Stefan Louw.

Die baie begaafde tenoor, Stéfan Louw, wat ook ’n Parysenaar is, is al op verskeie internasionale verhoë gehoor. Hy het die een na die ander geliefde aria gesing, en kon die gehoor ook lustig saamsing met bekende gunstelinge soos “Liefling” en “Funiculi”. Sy tegniese vaardigheid in La Danza het die asems weggeslaan! Stefan het ook komiese staaltjies uit sy lewe op die verhoog gedeel.

Carli D’Alebout en haar vioolvaardighede is goed bekend in Vredefort en Parys. Carli speel werke in Vredefort, wat Itzak Perlman op die grootste verhoë in die wêreld speel! Dis elke keer ‘n ongelooflike voorreg om haar te sien en te hoor speel. Met Sarasate se Zigeunerweisen, kon die gehoor hulle nie inhou nie en het hulle al begin applous gee in die middel van die stuk. Toe sy die laaste maat speel, was daar spontane applous en ’n welverdiende staande ovasie!  

 Carli D’Alebout en die tjellis, Matthys Coetzee. 

Carli en die Potchefstroomse tjellis, Matthys Coetzee, het ook ‘n paar werke saamgespeel, waaronder Dvorak se pragtige Humoresque wat met ongelooflike sensitiwiteit en emosie gesorg het vir ’n meesterlike uitvoering van dié werk.

Matthys, begelei deur sy ma, Anneli Coetzee, het self ook ‘n paar solowerke gespeel. Die dag voor die konsert het die orrel se transformator sodanige skade opgedoen dat sy registrasie nou “gevries is” totdat hy herstel word.

Indien jy graag ‘n bydrae wil maak om die orrel te help restoureer, kan jy elektronies ’n bydrae in die volgende rekening maak: NG Vredefort, FNB, 62202948933, takkode 250655, verw: Orrelfonds.

Dankie aan elkeen wat die afgelope naweek se konsert so ‘n groot sukses gemaak het en reeds hierdeur bygedra het tot die orrelfonds.

“Ek is ongelooflik trots daarop om deel van die Vredefort/Parys gemeenskap te wees,” sê Erna wanneer sy gesels oor die opvolgkonsert wat nou reeds beplan word.

Wanneer die orrel gediens is, sal die eerste konsert ‘n orrel extravaganza wees met ‘n keur van die land se voorste orreliste! Dié besondere musiekbelewenis wat sonder twyfel elke sent werd sal wees wat ingesamel is vir die orrel, mag jy beslis nie misloop nie!

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button