NewsNews

Sakeliga wil só dorp se sakegemeenskap versterk

Sakeliga wil só dorp se sakegemeenskap versterk

 

“Ons is nie op ons eie nie. Ons kan baat by nasionale regstrategie vir munisipale selfbestuur en kundigheid, gerugsteun deur ’n netwerk wat Sakeliga op nasionale vlak bied.” Dit was die boodskap verlede week toe daar geskiedenis gemaak is met die stigting van ’n eerste selfstandige sakeliga vir sakelui in Parys, en die bekendstelling van die #myParys-veldtog. Die veldtog fokus daarop om die gemeenskap, maar spesifiek die sakegemeenskap te bou, te bind en te beskerm.

Dit is ook die eerste stap in Sakeliga se strategie om Parysenaars te verenig om betrokke te raak by gemeenskapsaksies van die organisasie, verduidelik Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga. Vir dié organisasie gaan dit oor minder politiek, meer besigheid in sy strewe om ’n veilige sirkel om besighede te trek, sê Le Roux. Hy en die bestuur van die plaaslike Sakeliga het breedvoerig verduidelik hoe daar te werk gegaan word om gemeenskapsmeganismes meer vaartbelyn te kry om dienslewering te verseker tydens die bekendstelling van die veldtog aan die gemeenskap. Die vergadering is goed bygewoon en was daar positiewe terugvoer vir die inisiatiewe wat beoog word. Hoewel munisipale dienslewering van die groot fokuspunte bly in Sakeliga se werksaamhede, is die organisasie ook daar om tradisionele sakekamer funksies te bied, sê Le Roux, asook om ’n netwerk platform te bied waar sakelui hul ondernemings plaaslik en nasionaal kan bemark via die Sakeplein platform met sy nou reeds ongeveer 8 000 lede.

Lidmaatskap tot Sakeliga is ingedeel in drie groepe naamlik gemeenskap lidmaatskap vir lede van die publiek, platinum lidmaatskap vir besighede en individue, en dan lidmaatskap vir besighede. Die gedagte is dat plaaslike Sakeligas hul eie fondse bestuur om ’n selfstandige sakegemeenskap met selfverantwoordelikheid aan te moedig, terwyl Sakeliga op nasionale vlak ’n rugsteun netwerk bied. Ernst Vorster, hoof van plaaslike sakeligas en affiliasies by Sakeliga, verduidelik dat Sakeliga bloot ‘n getoetste model voorsien waarin gemeenskappe hulself kan organiseer, self besluite kan neem en hulself kan bestuur, maar met die voordeel dat hulle op ‘n nasionale kennispoel kan reken.

So is daar reeds groot suksesse behaal waar Sakeliga die hof moes nader soos in die onlangse geval waar die hof Sakeliga gelyk gegee het dat die bepaling geskrap moet word vir Swart Ekonomiese Bemagtiging by tenders op staatskontrakte, sodat tenders eerder op meriete beoordeel kan word.

Ook in die Resilient-saak waar Sakeliga as vriend van die hof die hof genader het om Eskom te verhinder om kragtoevoer na nywerhede in die Witbank-omgewing te sny weens munisipale wanbetaling. Die hof het beslis dat twee staatsorgane wat in dispuut is oor krag aangeleenthede nie die betalende verbruiker kan benadeel nie. Die saak is nou op appél en geld die bestaande hofbevel. Op nasionale vlak het Sakeliga as gemeenskapsorganisasie sonder winsoogmerk tans meer as 12 000 lede wat bestaan uit individue en besighede regoor die land. Sakeliga is nege jaar gelede gestig en het drie modelle in sy Sakeliga Affiliasieprojek. Dit sluit in bestaande sakekamers wat affiliasie ooreenkomste aangaan met Sakeliga, selfstandige sakeligas met ’n nuwe entiteit en metro sakeligas wat in 2021 geloods word.

Mense wat navrae het oor Parys Sakeliga, kan die voorsitter, Suleen Peens by 084 398 4394 kontak.  

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button