News

Huurders só gestraf oor huiseienaars se skuld

Huurders só gestraf oor huiseienaars se skuld

Hoe gemaak as jy skielik minder voorafbetaalde krag kan koop as voorheen, omdat die huiseienaar ’n agterstallige munisipale rekening het? Of jou kragtoevoer afgesny word, omdat óf die huiseienaar óf ’n vorige huurder met die elektrisiteitsmeter gepeuter het, en die boete betaal moet word voordat kragtoevoer herstel word.

Dit is die harde werklikheid wat huurders die afgelope maand soos ’n vuishou in die maag getref het nadat die Ngwathe Raad sy sogenaamde “Revenue Enhancement Strategy/Plan” aanvaar het. Volgens dié strategie word verbruikers wat in die verlede bloot voorafbetaalde krag gekoop het, en nie ook vir hul ander munisipale dienste betaal het nie, nou vasgevat.

Behalwe vir enorme boetes vir huiseienaars wat aan kragmeters peuter, behels die plan ook dat ’n deel van die bedrag waarmee wanbetalers voorafbetaalde krag koop, voortaan aangewend sal word vir die betaling van skuld op dienste soos water, vullisverwydering en rioolgelde.

Wanneer so ‘n persoon R100 se krag wil koop, sal hy byvoorbeeld slegs R60 se kragkrediete ontvang, en R40 sal aangewend word om vir ander dienste te betaal. Ongelukkig is dit in sommige gevalle waar huiseienaars munisipale skuld het, nou die huurder wat aan die kortste ent trek omdat die rekeninghouer/eienaar as kliënt vir die uitstaande geld en/of boetes aanspreeklik gehou word.

Gevolglik is die Ngwathe munisipaliteit nie in ’n posisie om huurders tegemoet te kom nie, want sou die huurder tegemoet gekom word, verloor die munisipaliteit sy hefboom om agterstallige skuld en boetes van eienaars in te vorder, omdat die eienaar weet dat hul huurders se dienste nie geraak, of opgeskort word nie. Volgens DA raadslid Andries Vrey, sal huurders wat hierdeur geraak word, teen die verhuurder moet optree. Hy sê dat in sulke gevalle, tensy die verhuurder ’n geldige dispuut met Ngwathe kan verklaar, dit neerkom op verbreking van die huurooreenkoms en dat die huurder dan sy verliese van sy verhuurder moet verhaal deur óf die huurkontrak te beëindig, of moontlik huur terug te hou. Rdl. Vrey sê dat ten spyte van vele pogings, kon hy nie suksesvol vir huurders wat geraak word, tussenbeide tree nie, en is dit nie net huurders in Parys nie, maar selfs in Edenville wat hom genader het met dieselfde penarie. Rdl. Vrey sê dat die rekeninghouer/eienaar uiteindelik verantwoordelik bly vir die betaling van sy munisipale rekening, en dat die huurder ongelukkig daaronder ly as die eienaar se rekening agterstallig is, of boetes gehef word.

Ook Saal de Jager van Harcourts sê dat hulle die afgelope maand sulke gevalle gehad het, en dat hulle die verhuurder aanraai om met die munisipaliteit te gaan praat. Daar kan tot 50% afgeskryf word van die agterstallige skuld, en kan die res dan afbetaal word. Indien daar nie by die ooreenkoms gehou word nie, raak die volle bedrag weer betaalbaar. Saal sê indien ‘n eienaar nie só ‘n ooreenkoms beding nie, plaas hul huurders in nuwe plekke wanneer dit beskikbaar raak, en trek die koste wat die huurder aangegaan het af van die huur sodat die huurder minder betaal!

Watter reëling kan huiseienaars met die munisipaliteit maak sou daar agterstallige munisipale skuld wees?

Verbruikers met uitstaande rekeninge kan deelneem aan ‘n skuldverligtingsproses om hul agterstallige skulde betaal te kry. ‘n Amnestieperiode van drie maande is tans van krag waartydens die helfte van ‘n verbruiker se uitstaande skuld voorwaardelik afgeskryf sal word, mits hy die ander helfte betaal. Die voorwaarde is dat die maandelikse verbruikersrekening vir ‘n aaneenlopende periode van 12 maande stiptelik elke maand voluit betaal moet word. Voldoen die verbruiker nie hieraan nie, word die voorwaardelike afskrywing gekanselleer, en die volle skuld weer betaalbaar. Vir diegene wat nie in staat is om die helfte van hul skuld eenmalig te kan betaal nie, is daar ‘n alternatief. Die helfte van so ‘n verbruiker se skuld, egter slegs die gedeelte wat dan meer as twee jaar uitstaande is, sal op aansoek voorwaardelik afgeskryf word. Die voorwaardes is tweeledig. Eerstens moet die verbruiker ‘n afbetalingsooreenkoms sluit waarkragtens die oorblywende uitstaande skuld (dus die oorblywende helfte van die ouer as twee jaar skuld en die totale jonger as twee jaar skuld) afbetaal word in 24 gelyke maandelikse paaiemente. Tweedens moet die verbruiker terselfdertyd sy maandelikse verbruikersrekening vir ‘n aaneenlopende periode van 12 maande stiptelik elke maand voluit betaal. Rente sal nie gehef word op agterstallige skuld solank die afbetalingsooreenkoms nagekom word nie. Verbreek die verbruiker enige van die voorwaardes, word die afskrywing gekanselleer en die volle skuld met rente weer betaalbaar.

Só gaan jy betaal as jy met jou meter peuter

Huiseienaars wat meters brug of daarmee peuter, sal voortaan beboet word met R9 832,49 vir ‘n eerste oortreding, R14 046,41 vir ‘n tweede oortreding en R28 092,82 vir ‘n derde oortreding. Vir besighede word die boetes R28 092,82, R56 185,64 en R98 324,87 onderskeidelik. In beide gevalle sal ‘n verbruiker se toevoerkabel ook by ‘n derde geleentheid verwyder word.

You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button