NewsNews

DBV kom tot die redding van bergskilpad

DBV kom tot die redding van bergskilpad

 

Parys is tans nog in die bevoorregte posisie om ‘n plaaslike tak van die Dierebeskermingsvereniging (DBV) te kan hê, maar vir dié tak soos baie ander, is dit ’n stryd om finansiële oorlewing. Met geen staatsubsidie nie, is die DBV 100 persent afhanklik van donasies en die sukses van fondsinsamelingsprojekte vir lopende bedryfsuitgawes soos lone, brandstof, voertuigonderhoud, skoonmaakmiddels en selfs veeartskostes. Hoewel veeartse in Parys die DBV baie goedgesind is en altyd bereid is om die ekstra myl te loop om te help, bly die DBV ook vir ’n deel van hierdie koste verantwoordelik.

Met die Covid-19 pandemie kon fondsinsamelings wat dié organisasie aan die gang gehou het, nie gehou word nie, wat groot finansiële kommer vir die tak meebring wat nie net Parys bedien nie, maar ook Koppies, Heilbron, Lindequesdrift-omgewing en Vredefort. ‘n Wye gebied wat die afgelope maand alleen 1 167 kilo’s op die pad beteken het.

Met die feesseisoen en Diwali wat voorlê, kan nie genoeg beklemtoon word hoe belangrik die DBV in ’n gemeenskap is nie. Daarvan getuig die talle oproepe wat op ’n Oujaarsaand alleen gekry word om te help wanneer vreesbevange diere soek en beseer raak, en hartseer diere-eienaars hulle tot die DBV wend vir hulp.

Dit is ook nie net die gemiddeld van 20 tot 40 honde per maand, en dan ook katte waarmee die DBV werk nie. In ’n landelike omgewing soos Parys word verskeie uitroepe gekry ook vir vee soos beeste, varke en perde waar hulp verleen moet word.

Die afgelope week weer moes DBV-inspekteur, Sarita Louw, tot die redding van ’n bergskilpad kom wat in Parys in ongewenste omstandighede aangehou is. Die skilpad sou vandeesweek deur die NDBV se Wildlewe-eenheid gehaal word vir rehabilitasie vir vrylating in die natuur. Parys DBV het tans drie permanente personeel en twee vrywilligers wat saam met Sarita werk.

DBV-inspekteur Sarita Louw met die bergskilpad tot wie se redding die DBV verlede naweek gekom het.

Sarita het op 1 Junie as inspekteur by Parys DBV begin, en is ‘n oud-Vrystater wat oorspronklik van Bloemfontein kom. Sy het groot planne vir Parys en wil maandeliks uitreik na al die gemeenskappe wat deur die plaaslike DBV bedien word – juis om skakeling met die gemeenskap en die DBV te kry.

Hoe kan jy help om die DBV se nood te verlig?

* Jy kan maandeliks of op die langtermyn ’n hok borg teen R500 per hok. Skakel 072 784 4061 as jy kan help.

* Skoonmaakmiddels is altyd welkom want by die DBV-hokke word seker gemaak dat die perseel skoon en higiënies gehou word vir elke viervoet-besoeker wat hier ingeboek word. Selfs middels soos asyn, koeksoda en waspoeier kan geskenk word vir die diere se beddegoed.

* Geldelike bydraes wat kan help met brandstof- en voertuigkoste, lone, die munisipale diensterekening en ander bedryfsuitgawes. Jy kan ’n elektroniese inbetaling maak na: Parys SPCA, Standard Bank, takkode 05 10 01, rekeningnommer 040 947 882.

* Hondekos en katkos is altyd welkom, sowel as komberse en speelgoed vir die diere.

* Sweiswerk vir die verbetering van die hokke.

Hoe kontak jy die DBV?

Die landlyn is tans buite werking, maar jy kan die noodnommer 072 784 4061 skakel.

Related Articles

Back to top button