News

Só wil Ngwathe sy dienslewering opskerp

Só wil Ngwathe sy dienslewering opskerp

 

Parysenaars behoort binnekort op beter dienslewering deur die munisipaliteit se finansiële-afdeling te kan reken. Meer intensiewe opleiding van personeel om meer kundige en verbruikersvriendelike diens aan die publiek te lewer, vorm deel van die Ngwathe Raad se omkeerstrategie waarop daar op 16 Oktober besluit is, en waaroor Gazette verlede week berig het.

Volgens VF Plus rdl. Phillip van der Merwe is nuwe, meer verbruikersvriendelike vorms ook ontwerp vir gebruik waar ‘n verbruiker verskil van die bedrae wat op sy rekening mag voorkom. Die proses wat moet volg op ontvangs van so ‘n dispuut, is ook duideliker uitgespel en aan tydperke gekoppel. Voorsiening word spesifiek gemaak vir ’n appélproses indien so ‘n verbruiker steeds nie tevrede is met die antwoord op sy dispuut nie, en ook hoe dié proses self sal verloop. “Hierdie is ‘n aspek waarmee in die verlede geweldige frustrasie ervaar is en ek vertrou dat die prosesse voortaan makliker en meer doelgerig sal verloop,” sê rdl. Van der Merwe.

Strenger maatreëls kom ook om inwoners wat vir gratis minimum basiese water en krag kwalifiseer, te verhoed om meer as die goedgekeurde volumes te gebruik indien daar nie vir die ekstra verbruik betaal word nie. Daar word tans ondersoek ingestel na die moontlikheid en haalbaarheid van ‘n voorafbetaalde waterstelsel omdat té veel inwoners eenvoudig nie vir die water betaal wat hulle verbruik nie, en die huidige watermeters nie die vloei by wanbetaling kan beperk nie. Hoewel die strategie om by kragaankope ‘n deel van die koopsom aan te wend ter betaling van ander dienste soos verlede week berig is, is dit nie naastenby genoeg om te verseker dat die munisipaliteit voldoende betaling ontvang vir die water wat sulke inwoners verbruik nie, hoewel dit ‘n mate van oplossing bied.

Nog ‘n aspek wat aangespreek gaan word, is leë en/of verlate erwe. Daar is tans heelwat erwe in al Ngwathe se dorpe wat onbenut is en waarvan in baie gevalle, dit onbekend is waar die eienaar hom bevind. Waar die persoon se rekening vir drie jaar of langer onbetaald is, sal die eiendom teruggeneem word en aan ‘n nuwe koper beskikbaar gestel word sodat heffings ten aansien van die eiendom verhaal kan word. Nog ‘n aspek wat tot dusver gereeld tot groot verliese vir die munisipaliteit gelei het, en nou aangespreek gaan word, is onvoldoende verbruikersdeposito’s. Rdl. Van der Merwe sê dit gebeur gereeld dat huurders van eiendomme (beide huise en sakepersele), gesien uit munisipale perspektief, oornag verdwyn sonder om hul verskuldigde verbruikersrekening te betaal.

Meermale is sulke verbruikers se rekeninge dan ook agterstallig op die tydstip wanneer hulle trek, en stel hulle nie die munisipaliteit van hul nuwe adres in kennis nie Hoewel die munisipaliteit wel dan hul deposito het, is dit dikwels veels te min vir wat verskuldig is. Groter deposito’s by nuwe aansluitings sal voortaan aan die orde van die dag wees en ‘n veldtog gaan ook geloods word om bestaande verbruikers se deposito’s na te gaan, en verhoging daarvan te vereis waar dit ontoereikend blyk te wees. Gesien teen die agtergrond dat betaling vir sommige dienste so laag as 40% van die verskuldigde bedrag vir die gelewerde diens beloop, is dit verstaanbaar dat die munisipaliteit nie in staat is om die infrastruktuur waardeur die dienste gelewer moet word, behoorlik in stand te hou nie, sê rdl. Van der Merwe.

“Wanneer die swak betalingskoers boonop gekoppel word aan ontoereikende administrasie en bestuur van die fondse wat wel ge-in word, word dit nog meer duidelik waarom die munisipaliteit tans nie die diensleweringsmas opkom nie, en waarom nuwe ingrypings nodig is,” het hy gesê. Gazette sal later oor nog nuwe maatreëls berig.  

Related Articles

Back to top button