NewsNews

Plant ’n boom met jou rekenaar

Plant ’n boom met jou rekenaar

Allerweë word aanvaar dat die grootste massa uitwissing van lewe op aarde sowat 252 miljoen jaar gelede plaasgevind het. Sowat driekwart van die lewe op land, en bykans 95% van die seelewe is vernietig as gevolg van vulkaanuitbarstings in die huidige Siberië. Vir millennia is enorme hoeveelhede koolsuurgas (CO2) die lug ingestuur, en dit het gelei tot ’n broeikaseffek en die versuring van die oseaan. Soveel miljoene jare later en ons sit met ’n soortgelyke verskynsel. Dit blyk dat die tempo waarteen die mens CO2 die lug instuur op die oomblik veertien keer hoër is as die jaarlikse uitstoot tydens die grootste biologiese ramp in die geskiedenis van die aardbol. Een van die grootste sondaars is die internet met Google vooraan. Tans is die internet ’n groter besoedelaar as die totale lugvaartindustrie! Iedere sekonde wat jy die internet gebruik, stoot jy 20 milligram CO2 uit. Met ongeveer 3,42 miljard internetgebruikers wat gemiddeld meer as 21 uur per week aanlyn is, beloop dit ’n skrikwekkende hoeveelheid.

Google werk natuurlik fantasties. Jy begin skaars met jou soektog na een of ander iets dan gooi hy vir jou ’n klomp moontlikhede uit. Om dit reg te kry, is enorme energievretende databasisse in datasentrums nodig. E-posse is nog erger. Vir sowel die ontvanger as die sender bewaar die internetverskaffer ’n kopie. Google bedien meer as 900 000 internetverskaffers wat in 2016 al sowat 260 miljoen watt van ons globale elektrisiteit verorber het, en waarvan die energie hoofsaaklik afkomstig is van CO2-vrystellende fossielbrandstowwe soos steenkool en olie. Lugbesoedeling in Suid-Afrika veroorsaak 20 000 sterftes per jaar – dieselfde aantal as padongelukke. Deur geringe veranderinge in jou internetgebruik te maak, kan jy jou deel bydra teen CO2-besoedeling.

Oorweeg die volgende:

•Verwyder al daardie onnodige nuusbriewe en advertensies wat jy per e-pos ontvang

•Skrap alle onbelangrike e-posse •Probeer om e-posse so min as moontlik te gebruik

•Blokkeer alle pespos wat in jou e-posbus beland Jy kan ook met aanlyn soektogte energie bespaar.

Oorweeg ’n soekenjin soos Ecosia. Vergelykings tussen Google en Ecosia toon weinig verskil in spoed en dekwyse. Die groot verskil kom by geld. Sowel Google as Ecosia ontvang geld vir advertensies wat tussen die soekresultate verskyn. Google gee die winste wat hulle maak vir hulle beleggers. Daarenteen gebruik Ecosia 80% van die winste vir die aanplant van bome dwarsoor die wêreld. Ecosia se webwerf https://www.ecosia.org/ is absoluut fassinerend. Hulle maak aanspraak daarop dat elke soektog op die internet 1kg CO2 uit die atmosfeer haal. Vyftien miljoen mense gebruik Ecosia. Daar word bereken dat sowat 1.5 miljard bome aangeplant moet word om die CO2 wat ons sedert die Industriële Revolusie die lug ingeblaas het, te neutraliseer. Inmiddels het Ecosia al meer as 111 miljoen bome aangeplant en elke .8 sekonde kom daar ’n boom by. Hoe meer bome, hoe meer word die sonlig gereflekteer, hoe groter die kans op wolke, hoe beter word die aarde afgekoel. Boonop is bome die longe van ons aardbol.

Hulle verorber koolsuurgas en stel suurstof vry wat die mens moet inasem om voort te bestaan. Bodemerosie word gekeer en fauna en flora gedy. Deur die internet slim te gebruik, kan jy jou deeltjie bydra om ons aarde te red uit die bedenklike toestand waarin die mens ons enigste woonplek gedompel het.

Lees verder: https://www.voordewereldvanmorgen.nl/artikelen/waarom-internetten-minder-duurzaam-is-dan-vliegen? https://www.scientias.nl/252-miljoen-jaar-geleden-verdween-bijna-al-het-leven-van-de-aarde-en-nu-weten-we-waarom/ https://mg.co.za/article/2016-09-12-00-air-pollution-kills-20-000-per-year-in-south-africa-as-many-as-in-traffic/

Related Articles

Back to top button