NewsNews

Hoër boetes kom vir hulle wat meters brug

Tydens ‘n spesiale raadsvergadering op 16 Oktober het die Ngwathe Raad ’n nuwe sogenaamde “Revenue Enhancement Strategy/Plan” aanvaar. Die doel van die strategie is om die inkomste wat die munisipaliteit moet inkry, beter in te vorder. Volgens VF Plus raadslid, Phillip van der Merwe, vorm verskeie maatreëls om wanbetaling aan te spreek, om inkomsteverhaling te …

Tydens ‘n spesiale raadsvergadering op 16 Oktober het die Ngwathe Raad ’n nuwe sogenaamde “Revenue Enhancement Strategy/Plan” aanvaar. Die doel van die strategie is om die inkomste wat die munisipaliteit moet inkry, beter in te vorder. Volgens VF Plus raadslid, Phillip van der Merwe, vorm verskeie maatreëls om wanbetaling aan te spreek, om inkomsteverhaling te verbeter, en om uitgawes te besnoei, deel van die plan. Een belangrike maatreël rondom wanbetaling is dat die toepaslike bywet gewysig gaan word sodat huiseienaars wat meters brug of daarmee peuter, voortaan beboet sal word met R9 832,49 vir ‘n eerste oortreding, met R14 046,41 vir ‘n tweede oortreding en R28 092,82 vir ‘n derde oortreding. Vir besighede word die boetes R28 092,82, R56 185,64 en R98 324,87 onderskeidelik. In beide gevalle sal ‘n verbruiker se toevoerkabel ook by ‘n derde geleentheid verwyder word.

Tweedens sal persone wat bloot voorafbetaalde krag koop en nie ook vir hul ander dienste betaal nie, voortaan vasgevat word. Wanneer so ‘n verbruiker krag aankoop sal ‘n deel van die betaling aangewend word vir kragkrediete, maar ‘n deel ook vir betaling van ander dienste soos water, vullisverwydering en rioolgelde. Wanneer so ‘n persoon byvoorbeeld R100 se krag wil koop, sal hy byvoorbeeld R60 se kragkrediete ontvang en R40 sal aangewend word om vir ander dienste te betaal. Rdl. Van der Merwe waarsku dat hierdie beleid streng toegepas sal word en vra dat verbruikers vroegtydig deeglik kennis neem dat dit binnekort toegepas sal word. Verbruikers met uitstaande rekeninge kan deelneem aan ‘n skuldverligtingsproses om hul agterstallige skulde betaal te kry. ‘n Amnestieperiode van drie maande word nou van krag waartydens die helfte van ‘n verbruiker se uitstaande skuld voorwaardelik afgeskryf sal word mits hy die ander helfte betaal.

Die voorwaarde is dat hy dan sy maandelikse verbruikersrekening vir ‘n aaneenlopende periode van 12 maande stiptelik elke maand voluit moet betaal. Voldoen hy nie hieraan nie word die voorwaardelike afskrywing gekanselleer en die volle skuld weer betaalbaar. Vir diegene wat nie in staat is om die helfte van hul skuld eenmalig te kan betaal nie, is daar ‘n alternatief. Die helfte van so ‘n verbruiker se skuld, egter slegs die gedeelte wat dan meer as twee jaar uitstaande is, sal op aansoek voorwaardelik afgeskryf word. Die voorwaardes is tweeledig. Eerstens moet die verbruiker ‘n afbetalingsooreenkoms sluit waarkragtens die oorblywende uitstaande skuld (dus die oorblywende helfte van die ouer as twee jaar skuld en die totale jonger as twee jaar skuld) afbetaal word in 24 gelyke maandelikse paaiemente. Tweedens moet die verbruiker terselfdertyd sy maandelikse verbruikersrekening vir ‘n aaneenlopende periode van 12 maande stiptelik elke maand voluit betaal. Rente sal nie gehef word op agterstallige skuld solank die afbetalingsooreenkoms nagekom word nie. Verbreek die verbruiker enige van die voorwaardes word die afskrywing gekanselleer en die volle skuld met rente weer betaalbaar. Gazette sal later verder berig oor ander aspekte van die strategie. Intussen het rdl. Van der Merwe versoek dat inwoners, waar hul daarvan weet, saamwerk om kragdiefstal te rapporteer sodat oortreders aangespreek kan word.

Hy moedig ook verbruikers met uitstaande skuld aan om van die skuldverligtingsaanbiedinge gebruik te maak om hul rekeninge in orde te kry aangesien daar binnekort begin sal word om verbruikers met uitstaande skuld se kragtoevoer te staak.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button