NewsNews

Paaie departement help met S171 gate

Paaie departement help met S171 gate

Daar is verlede week einde ten laas weer hulp gekry met die herstel van slaggate op die S171 (Vaal Eden-pad). Dit danksy Vaal Eden Land Care lede en grondeienaars se bydrae vir sement en arbeid, en die Vrystaatse Departement van Polisie, Paaie en Vervoer wat die teermengsel, TLB, tipbak vragmotors, stamprollers en arbeid beskikbaar gestel het. Die herstelwerk kom nadat grondeienaars en die Land Care komitee al by herhaling self moes help met herstelwerk aan die haglike padoppervlak. In Maart vanjaar het Land Care komitee-lede ’n 10km strook teerpad herstel om dit rybaar te kry vir nie net grondeienaars langs die roete nie, maar ook mynvoertuie en toeriste wat gereeld van die pad gebruik maak vir die trou- en funksie-fasiliteite wat hier geleë is. Die hulp wat nou gekry is van die paaie departement is met ope arms verwelkom nadat vroeër vanjaar nog aangedui is dat daar dié keer glad nie geldelik bygedra kan word nie, omdat daar nie geld is vir herstel van sekondêre paaie nie.

Dit het toe beteken as daar nie self opgedok word nie, motoriste moes vrede maak met die teervoos-pad. Verlede jaar is aan die grondpad-gedeelte voor Sandfontein verby, oorkant die Almur Smit Pluimveeplaas op pad vliegveld toe gewerk, asook aan die teergedeelte van die S171. Toe is die pad geskraap, leivore gemaak en gruis bygesit, en het die departement teer beloof om die slaggate reg te maak. Tydens ’n Land Care vergadering verlede week is gehoor dat die departement ’n 9km gedeelte van die pad geassesseer het, en dat die verslag weer gewys het op die dringendheid om die padoppervlak, slaggate en krake te herstel ter wille van die gevaar wat dit tans vir padgebruikers inhou.

Related Articles

Back to top button