NewsNews

‘Koppelkat’-humor ’n wenner in tye soos dié

‘Koppelkat’-humor ’n wenner in tye soos dié

As Leo eers Cupido speel, is daar geen salf te smeer nie.
Maar luister self as dié lui, vet woonstelkat jou uit sy aristokratiese Persiese perspektief die storie van woonstelbure Dina en Dirk, en sy planne om die twee bymekaar te kry, vertel.
Met dié heerlike humor van die luisterdrama, “Koppelkat”, het twee boesemvriendinne, Lunéll Kruger en Zelda Bezuidenhout, as wenners van Netwerk24 se Luisterdrama-kompetisie weggestap. Hulle deel die R100 000 prysgeld.
Dié twee is al drie dekades lank vriendinne vertel hulle, en sê dat hulle net ses dae voor die sluitingsdatum koorsagtig begin skryf het, en toe net-net die sperdatum gehaal het.
Uit ‘n rekordtal van 200 inskrywings het hul drama die beoordelaars se harte gesteel. Balsem vir die siel in tye soos nou met die pittige humor en hovaardigheid van Leopoldt von Bismarck Langenhoven die Vierde. Hy reken immers hy’s nie enigiemand in die woonstelgebou se eiendom nie.
Die luisterdrama sal einde November opgeneem word en in 2021 as podsending op Netwerk24 beskikbaar wees.
Beide Lunéll en Zelda is twee baie talentvolle vroue.

Lunéll as materiaal- en digitale kunstenaar, en self ook talentvolle skrywer en illustreerder, en Zelda as bekroonde skrywer van onder meer die jeugromans, “As mens geluk kon proe (naaswenner in Lapa se jeugromankompetisie in 2017), ‘Die ses weke van Thomas en Ella’, en haar nuutste pennevrug, ‘Toe ons oneindig was.’
Die verfilming van haar volwasse roman, ‘Die dekonstruksie van Retta Blom’, word in 2021 beplan.
Dan wag nog ‘n splinternuwe jeugroman uit Zelda se pen, “Die ongelooflike ontdekkings van Jana Louw’ wat in Februarie 2021 gepubliseer word.
Vir hierdie Parysenaar was ‘Koppelkat’ nie die eerste wat sy haar hand aan luisterdrama gewaag het nie. Verlede jaar is Zelda se debuut radiodrama, ‘As ‘n kind kom kuier’, as naaswenner in RSG se radiodrama-kompetisie bekroon.

Related Articles

Back to top button