NewsNews

Groot skade vir diensverskaffers na Witkop-diefstal

Groot skade vir diensverskaffers na Witkop-diefstal

Groot skade is verlede week deur verskeie diensverskaffers gelei ná die soveelste diefstal by Witkop langs die Parys/Fochville-pad. Verskeie kommunikasie- en sekuriteitstoerusting is op dié hoë terrein geïnstalleer.

Volgens Pieter Kemp van Landelike Gemeenskap Veiligheid (LGV) het die beheerkamer omstreeks 23:40 die boodskap deurgegee dat die sein by Witkop af is toe diewe klaarblyklik eers die kabels van die sekuriteitskameras geknip het. Daar is waarskynlik aan die kant van die paal opgeklim waar daar nie kameras is nie.

Volgens Saal de Jager van Parys Sekuriteit is van dié sekuriteitsmaatskappy se batterye en ander toerusting ter waarde van nagenoeg R20 000 gesteel. Ook Vengaland het enorme verliese gehad wat op tussen R50 000 en R60 000 geraam word, nadat ook van dié diensverskaffer se batterye en toerusting gesteel is. Henk Havenga van Vengaland het aan Gazette gesê dat die batterye juis daar is as bystand kragvoorsiening omdat Eskom-krag so wisselvallig is.

Dienslewering is nie onderbreek nie, maar moet die batterye onmiddellik vervang word sou dit gesteel word, om seker te maak daar is bystand kragvoorsiening.

Die radiostasie KSFM het selfs nog groter skade gehad – nagenoeg R100 000, nadat die hele senderkas deur die diewe by Witkop gesteel is. Vir dié gemeenskapsradiostasie kon die skade kwalik op ’n slegter tyd gekom het, nadat die stasie ná ’n stilte van drie jaar, weer in Mei op die lug gehoor kon word met groot vreugde vir sy luisteraars. Volgens Sakkie van der Schyff, een van die besturende direkteure van die radiostasie, sal daar egter gekyk word hoe hulle hierdie uitdaging die hoof kan bied. “Ons gaan nie net lê nie,” het hy gesê en bygevoeg die stasie hou van ’n uitdaging. Hoewel die stasie vandeesweek nog nie op die lug was nie, kan luisteraars via stroom op www.ksfm.co.za inluister.

Sedert daar sekuriteitskameras by Witkop geïnstalleer is, het diefstal afgeneem, maar is diensverskaffers moedeloos omdat misdadigers net ’n kortkop voor is.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button