News

Bring vergete helde terug in jou lewe

Bring vergete helde terug in jou lewe

Het jy al ooit die Potchefstroomse Militêre Begraafplaas besoek? Indien nie, dan is dit nou tyd om ‘n besoek aan die grafte van die 123 slagoffers van die Eerste en Tweede Wêreldoorlog af te lê. Die Statebond Oorlogsgrafte Kommissie (SOK) glo dat almal van van regoor die Statebond wat hul lewens in die strewe na vrede in die twee wêreldoorloë gegee het, erken moet word, ongeag hul ras, agtergrond of die aard van hul diens. Hulle glo dat wanneer ‘n mens oorlogsgrafte besoek, jy weer bewus word van die harde werklikheid van oorlog en dat ‘n mens baie daaruit kan leer. Die SOK glo dat oorlogsgedenktekens en begraafplase permanente herinneringe is aan die mans en vroue se opofferings in die oorlog wat uiteindelik die wêreld help vorm het. Hulle doen ‘n beroep op die gemeenskap om die Potchefstroomse Militêre Begraafplaas te besoek wat hulle as ‘n ereplek beskou.

Die afgelope paar jaar is ‘n daadwerklike poging aangewend om ook die talle mede-Suid-Afrikaners – veral swart dienspligtiges – te erken wat nooit die nodige erkenning ontvang het nie. Die SOK onderhou tans 21418 begraafplase in ons land en op plekke so ver as Europa en die Verre Ooste. Hulle soek ook steeds na die name van diegene wat “vermis” word, sodat hulle ook vir ewig saam met al die ander dooies van die twee wêreldoorloë onthou kan word. Diegene wat graag meer oor die Statebond Oorlogsgrafte Kommissie wil leer, kan hul webwerf by https://www.cwgc.org/ besoek. Die Potchefstroomse Militêre Begraafplaas is in Eleazerstraat geleë. Dit is ‘n systraat wat afdraai van die R53 of die Ventersdorppad (koördinate: breedtegraad -26.67383, lengtegraad 27.05889).

Related Articles

Back to top button