NewsNews

‘Aanvaller wou nie steel nie, net leed aandoen’

‘Aanvaller wou nie steel nie, net leed aandoen’

’n Vrou wat steke moes kry nadat sy onlangs helder oordag in Vereeniging se middestad aangeval is, is glo nie beroof nie en niks is tydens die aanval by haar afgeneem nie.

Die Herald se susterskoerant, Vaalweekblad, die afgelope week met Joe Fourie, die man van Elmari Fourie wat aangeval is, in verbinding getree.
Joe het namens sy vrou aan Vaalweekblad gesê dit blyk of die doel van die aanval suiwer was om vir Elmari leed aan te doen.
“Hy het niks by haar gevat nie en as mens kyk na die wonde wat sy aan haar arm opgedoen het toe sy probeer keer het, lyk dit of die aanvaller vir haar bors of nek gemik het,” meen hy.
Elmari kan glo nie veel van die voorval onthou nie. Sy is wel besig om aan te sterk en haar wonde is besig om te genees.
Volgens Joe was sy vrou in die middestad om medikasie by ’n apteek te gaan afhaal. Daarna het sy glo by ’n winkel in die middestad gestop om iets te gaan kyk.
Dit was toe wat die aanvaller op haar afgestorm en haar links en regs begin steek het.
Elmari is later na Mega Apteek in Lesliestraat geneem, waar haar wonde toegedraai is. Daarna is sy na dr. Khalid Tickley se Medi Zone reg langs die apteek geneem waar hy die snywond van sowat 5cm diep met steke toegewerk het.
Gelukkig is daar geen ernstige skade aan die senuwees in haar arm nie.
Joe was vol lof vir die beskostigbare en professionele behandeling wat sy vrou by dr. Tickley ontvang het, maar sê dat hulle nooit die saak by die polisie aangemeld het nie, aangesien hulle nie meer die polisie vertrou nie.
“Vir wat? Jy gaan sit in rye om ’n saak aanhangig te maak en dan kom daar in elk geval niks van nie.
“Daar is twee jaar gelede by ons huis ingebreek. Ons het die polisie daarvan verwittig en niks het ooit van die saak gekom nie.”
Kapt. Fikile Funda, ’n woorvoerder vir die polisie in Vereeniging, sê egter dit is belangrik om misdade soos dié aan te meld.
“Dit kan die polisie help om misdaadtendense vas te stel en help die polisie om hul hulpbronne doeltreffend te bestuur.
“As ons weet waar misdade plaasvind kan ons byvoorbeeld patrollies daar ry,” verduidelik hy.
Volgens Funda kan ’n beskrywing van die verdagte die polisie ook help om misdadigers aan te keer. Dit kan volgens Funda ook help om die motief en die modus operandi van die verdages vas te stel en misdaadvoorkomingstrategieë daarvolgens aan te pas.
Dit kan volgens Funda ook help om gewoontemisdadigers vas te trek, aangesien een misdaad dikwels kan help om ‘n soortgelyke misdaadraaisel op te los.
Funda het by navraag gesê dat dit nie noodwendig die hele middestad is wat onveilig is nie, maar eerder sekere gebiede in die middestad waar misdaad veral hoog is.
Volgens Funda is daar veral in die gebied van Uniestraat, vanaf die kruising met Rhodeslaan in die noorde, tot by Lewislaan in die suide, asook die noordelike gebiede langs Voortrekkerstraat, ’n hoë voorkoms van misdaad.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

‘Aanvaller wou nie steel nie, net leed aandoen’

Related Articles

Back to top button