NewsNews

Koudbloedige liefde en warm vryery lei tot 51 ‘babas’

Koudbloedige liefde en warm vryery lei tot 51 ‘babas’

Vanjaar het die liefde weer aan Purpy se deur kom klop in die vorm van Tigerman, ook ‘n luislang

Dis heerlike Lente in die Vaaldriehoek en daarmee saam kom daar nuwe lewe, vlindersagte bloeisels… en 51 babaslangetjies! Dis nou te sê as al die eiers wat Purpy, ‘n albino-luislang van Pets Kingdom, binnekort gaan uitbroei.

Purpy, ‘n “Purple Reticulated Python”, was maar ‘n babatjie van omtrent 50 cm toe haar mensma, Maria Jardine, haar sewe jaar gelede in Midrand gekoop het. Purpy het intussen volwasse geword, weeg nou sowat 40 kg en het reeds twee keer tevore eiers gelê. Die eerste keer 45 en die volgende jaar 48.

Dié soort slange broei net een keer per jaar en kan tot 20 jaar oud word. Vanjaar het die liefde weer aan Purpy se deur kom klop in die vorm van Tigerman, ook ‘n luislang, wat haar koudbloedige hart warm laat klop het. Ondanks hul spesie se naam was dié twee verliefdes beslis nie lui nie en na ‘n deeglike hofmakery kan Purpy vanjaar met 51 bevrugte eiers spog.

As besorgde vroedvrou het Maria vooraf seker gemaak dat Purpy gemaklik sou wees terwyl sy “kraam”, dus het die broeiboks met warmpanele en ‘n koesterlig by voorbaat reggestaan sodat sy ‘n lekker warm plek kon hê om haar eiers te lê. Volgens Maria het dit Purpy op 13 September sowat agt ure geneem om al die eiers te lê. Elke eier weeg omtrent 250 gram en word soos goud deur Maria opgepas. Die broeikas moet deurgaans op 32 grade Celsius en 70% humiditeit gehou word totdat die slangetjies oor so 80 dae gaan uitbroei.

Maria sê slangwyfies soos Purpy kan nogal aggressief raak as indringers hul eiers probeer verwyder. Omdat Maria haar gereeld hanteer en hulle in die afgelope sewe jaar ‘n hegte verhouding opgebou het, het Purpy haar toegelaat om die eiers, wat aan mekaar vasgeplak het, versigtig los te maak en in die broeikas te plaas.

Volgens Maria het elke babaslangetjie teen die tyd wat hulle moet uitbroei ‘n skerp tandjie by die bolip waarmee hulle die eierdop breek om te kan uitseil. Die slangetjies is sowat 30 tot 40 cm lank by geboorte. Nou begin die lang wag totdat die babas omstreeks einde November gaan begin oë wys.

Koudbloedige liefde en warm vryery lei tot 51 ‘babas’

 

Related Articles

Back to top button