News

Voëls deur my venster

Voëls deur my venster

Gedurende die grendeltyd het ons nie werklik die geleentheid gehad om te gaan voëls kyk nie. Ons hier in Goue Jare was egter in die gelukkige posisie dat ons wel kon uitgaan. By van die ander plekke waar daar van Feathers Voëlklub se lede woon, kan hul steeds nie uitgaan nie.
Gelukkig kon ek my voëlvoerder voor die venster van my werksplek sit en vandaar is dit heerlik om die voëls dop te hou. Alhoewel dit nie aan te bevele is nie, het ek ook honderde foto’s deur die venster geneem.

Ons kry gereeld besoek van verskeie voëls, soos die verskillende duiwe en mossies, die Geelbeklyster, die Kaapse Glasogies, die Witpenssuikerbekkies, Bruinkopvisvanger, die Hadeda, Lelspreeus en selfs soms die bure se wit tarentale.
Party voëls kom bad of soek elke dag kos terwyl ander, soos die Hoep-Hoep, Rooibekkakelaar, Rooivlerkspreeu, Swartsuikerbekkie, Europese Byvreter en die Rooibekvuurvinkie geleentheidsbesoekers is.

Foto’s Hansie Bekker

Dit is baie interessant om die voëls en dit wat hul doen dop te hou. Soms laat dit my bietjie aan mense dink.
‘n Paar dinge het my opgeval:
* Hulle kan mekaar ook sit en troetel en streel.
* Babas en kinders soek altyd kos en by die voëls dieselfde. Die kleintjies is al yslik groot en begin al self vreet, maar dan moet die ouers en soms selfs die ander familielede nog bontstaan om daardie bekkies stil te kry. Die Rooikopvinkies is meesters as dit by kosvra kom. Ek het elders ook gesien hoe die hele Koringvoëlfamilie spring om die jong voëltjies te voer.
* Deur hul dop te hou kom jy ook agter wat die voëls eet. Die Kaapse Glasogies kom kuier gereeld by die vrugte wat ons uitsit en hul voer ook hul kuikens van die vuurdoring se bessies wat hul eers pap druk.
* Dit lyk of daar ‘n besliste pikorde (pecking order) in die voëlryk bestaan. As die Rooikophoutkapper naby die appel land, gee die Kuifkophoutkapper onmiddellik pad.
Die Rooivink en die Swartkeelgeelvink sal een-een saam vreet, maar verwilder al die ander by die saadbak.
* Hulle sê “two is a company, three is a crowd”. Die Rooivinke glo ook daaraan en ek het al menige gevegte by die saadbak gesien. Solank daar twee Rooivinke is wat vreet, gaan dit rustig, maar as ‘n derde een bykom, is daar ‘n woeste bakleiery.
* Hier is ook ‘n Geelbeklyster met net een been wat hier rondhop. Jy sien soms voëls krap hul kop of oog met die poot. Hy het aangepas en doen nou die krapwerk met sy vlerk (elmboog).

Hierdie is maar net ‘n paar onwetenskaplike waarnemings en ander mag dit anders ervaar, maar dit bly lekker om ons geveerde vriende dop te hou.
Daar is al van baie vroeg af ernstige navorsing oor voëls se gedrag gedoen en baie inligting hieroor is ook op Google en in boeke beskikbaar.
Ons geniet ons stokperdjie en die feit dat jy dit in hierdie tyd van inperking sommer hier in jou tuin of onmiddellike omgewing kan beoefen sonder om rond te ry, is wonderlik.
In die lig van die inperkingsregulasies en aangesien Sally Martin se saal nog nie beskikbaar is vir sosiale geleenthede nie, kan Feathers Voëlklub voorlopig geen byeenkomste reël nie.
Uitstappies:
Daar moet nog ‘n datum bepaal word vir die volgende uitstappie.
Navrae oor Feathers Voëlklub en sy aktiwiteite kan gerig word aan Hansie Bekker by 082 820 4306, of (056) 811 4754, of Peter Killian by 083 625 8100

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button