NewsNews

Die ‘skadu hond’ genaamd depressie

Die ‘skadu hond’ genaamd depressie

Die term “depressie” word baie keer misverstaan. Baie mense wie aan depressie dink, sien ‘n beeld van ’n eensame persoon in ’n donker kamer wat heeltyd slaap en aan selfmoord dink. Alhoewel dit soms kan waar wees, is dit net ’n ekstreme voorbeeld. Soos in die geval van enige toestand of siekte, is daar verskillende grade wat gaan bepaal hoe erg jou simptome is. Mense kan byvoorbeeld ligte verkoue simptome hê, soos ‘n loopneus en ‘n bietjie kopseer, tot baie erger simptome van dieselfde siekte, soos griep of bronchitis. Net so met depressie.
Depressie beteken maar net dat jy ‘n punt bereik het waar jou battery “pap” is en jy sukkel om in die daaglikse lewe te funksioneer. Mense met erge simptome van depressie kan dus totaal bedlêend wees, nie eet of praat nie en met selfmoordgedagtes worstel, terwyl miljoene depressielyers vervulde lewens lei. Hierdie mense is skaars bewus van hulle toestand en sal net soms noem dat hulle “’n bietjie af” voel.
Depressie as ‘n diagnoseerbare toestand kom wêreldwyd voor, en raak ten minste 300 miljoen mense direk. Toestande van depressie kom ongeveer dubbel so veel keer by vroue as by mans voor, en daar word beraam dat ten minste 15% van alle volwassenes in Suid-Arika hiermee diagnoseerbaar is.
Daar is ‘n paar verskillende vorme van depressie, waarvan die mees algemene bekend staan as major depressie. Major depressie verwys na die vorm van depressie waar mens konstant veg teen ‘n lae gemoed. ‘n Ander bekende vorm van depressie is bipolêre depressie, wat minder algemeen is en waar mense nie net sukkel met ‘n lae gemoed nie, maar ook met ‘n vinnige, oormatige gejaagde gemoed wat in fases kan voorkom.
Ons almal het ons “op” en “af” dae, selfs vir lang rukke, maar dit beteken nie dat ons almal depressielyers is nie. Dis egter belangrik om jouself of jou geliefdes dop te hou as ligte tekens meer gereeld voorkom, want depressie is ‘n toestand wat geleidelik aankom en stelselmatig kan vererger.
Die oorsake van depressie kan geneties wees, m.a.w. mense kan meer geneig wees om te sukkel met die aanslae van die lewe, maar is baie keer die gevolg van die volgehoue energie verbranding om susksesvol aan die lewe deel te neem. In kort, as mens meer energie gee as wat jy inneem, is jou kans om “lam” te raak heelwat groter.
Om diagnoseerbaar te wees, moet een of albei van die volgende twee simptome voorkom, vir ‘n tydperk van ten minste twee weke:
•Neerslagtigheid (‘n oorheersende gevoel van hartseer, of die onvermoë om emosie te ervaar) en/of
•’n Afname in belangstelling of genot in die meeste daaglikse aktiwiteite)
Om die diagnose te kan maak, moet ten minste vier van die volgende simptome ook, ten minste twee weke lank, voorkom:
•Verandering in eetlus; gewigstoename of -verlies
•Slaapprobleme, soos slaaploosheid of te veel slaap. Veral die bekende 02h00-03h00 wakker skrik in die vroeg oggend
•Geïrriteerdheid, of fisiese lamheid, op ‘n daaglikse basis
•Konstante fisiese en/of emosionele moegheid en verlies aan energie
•Intense gevoelens van skuld of hulpeloosheid
•Onvermoë om te konsentreer of besluite te maak
•Gereelde gedagtes aan die dood en/of selfmoord Indien ‘n persoon vermoed dat hy/syself of ‘n geliefde aan depressie ly, is dit belangrik om te onthou dat die toestand behandelbaar is en so gou moontlik die hulp van ‘n professionele persoon (‘n mediese dokter, kliniese sielkundige, psigiater in te roep.
Mens kan ook vir jou predikant/pastoor of as daar ‘n maatskaplike werker in die omgewing vra om jou by te staan en/of te verwys. Daar word sterk aanbeveel om eers by jou huisdokter te begin.
Omdat depressie se simptome fisies is, m.a.w. in mens se liggaam kom sit, kan basiese medikasie soms baie verligting bied. Jou huisdokter sal jou verwys na ‘n psigiater (spesialis in die voorskryf van medikasie vir bv. depressie).
Die ideaal is om medikasie te kombineer met behandeling met ‘n sielkundige wie ervaring in die veld het. Moderne tegnologie maak dit deesdae moontlik om afsprake met ‘n sielkundige te kan hê (bv Zoom of Whatsapp Video), veral vir mense wat in die platteland woon en nie onmiddelik toegang tot psigiaters of sielkundiges het nie.
Oor die skrywer:
Louis Awerbuck is kliniese sielkundige wat sedert 1995 in privaat praktyk is. Sy loopbaan het in diens van die SA Polisie se Eenheid vir Misdaadgerigte Sielkunde begin, waar hy toonaangewende navorsing oor reeksmisdadigers gedoen het. Hy spesialiseer al etlike jare lank in algemene psigoterapie met volwassenes, sielkundige assessering en sportsielkunde. Hy is ook gereeld betrokke by konsultasie aan maatskappye vir leierskapsontwikkeling, opleiding, spanontwikkeling, keuring en plasing.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button