News

Nie eens pepersproei skrik man af nie

Nie eens pepersproei skrik man af nie

Terwyl Marie van Niekerk Vrydag net voor 12:00 nog druk besig was om voorraad te sorteer by J&N The Leather Company in Breëstraat, het ’n man doodluiters die veiligheidshek wat op knip was oopgemaak en die winkel binnegekom.

Marie vertel dat sy skielik net ’n slag gehoor het, en die volgende oomblik was die man by die toonbank.

Sy was alleen in die winkel en het dadelik besef dat die man beslis nie daar was om leeritems te koop nie. Hierop het sy haar pepersproei by die toonbank gegryp en die man daarmee gespuit. Hy het uitgehardloop, en toe met ’n baksteen teruggekom en haar begin rondstamp tot sy op die vloer geval het.

Personeel van Studio J het Marie se gille gehoor en haar blitsig te hulp gesnel. Hulle het haar op die vloer aangetref met die man wat nog met die baksteen by haar gestaan het. Met dié het hy geskrik en die hasepad gekies. Niks is uit die winkel gevat nie.

Marie is nie beseer nie, maar vertel dat die winkel die vorige dag al dopgehou is en ’n man wat verdag voorgekom het, toe ook in die winkel was, maar blitsig weggehardloop het toe sy hom gewaar het. Twee weke gelede sê sy was daar ’n soortgelyke voorval.

Die voorval is by die polisie gerapporteer, maar Marie waarsku sakelui om baie oplettend en versigtig te wees, veral wanneer hulle die winkel alleen beman. Toets gereeld jou paniekknoppie as jy ’n alarm in die winkel het, en moenie waardevolle items soos selfone en handsakke sigbaar laat rondlê nie. Misdadigers is uitgeslape en doen hul huiswerk baie goed voor die tyd.

 

Related Articles

Back to top button