NewsNews

Kragaankope: Spaar só

Kragaankope: Spaar só

 

Verbruikers is dalk nie almal bekend met die bloktariefstelsel vir elektrisiteitsaankope, ook bekend as “IBT” nie. Maar om te verstaan hoe jy kan spaar en wanneer jy duurder sal betaal, moet jy weet hoe die IBT werk. Eskom en ander elektrisiteitsverspreiders se tariewe word deur die Nasionale Energie Reguleerder (NERSA) goedgekeur en gereguleer. In Februarie 2010 het NERSA besluit om die bloktariefstelsel aan huishoudelike verbruikers bekend te stel.

Die Inclining Block Tariff of IBT is ’n glyskaal wat die prys van elektrisiteit in blokke verdeel, gebaseer op die hoeveelheid eenhede wat gedurende die maand deur die verbruiker gekoop word. Wat beteken die tariefglyskaal dan vir die verbruiker? Die tariefglyskaal behels dat elektrisiteitsaankope in blokke gedoen word. In die eerste tariefblok word eenhede teen die goedkoopste prys aangekoop. Soos wat die verbruiker meer eenhede gedurende die kalendermaand aankoop, sal die aankope uiteindelik binne die tweede en duurder tariefblok val.

Die proses is outomaties en hang slegs af van die hoeveelheid eenhede wat deur die klant aangekoop word. Aan die begin van die nuwe kalendermaand begin dit weer van voor af en val die klant se eerste aankope weer in die eerste en goedkoopste tariefblok. Hoe doen jy dan jou elektrisiteitsaankope so ekonomies as moontlik? Daar is ’n wanpersepsie dat dit ekonomies is om jou elektrisiteit in grootmaat aan te koop. Die waarheid is dat die mees ekonomiese manier liewer is om net genoeg krag aan te koop na gelang van jou huishouding se maandelikse verbruik. Dit maak glad nie ’n verskil of jy die maand se eenhede eenmalig aan die begin van die maand aankoop en of jy dit liewer deur die loop van die maand koop nie. Die stelsel bereken sélf die tarief gebaseer op die aantal aankope vir die betrokke maand.

Omdat die blokke duurder word, kan die verbruiker geld spaar deur nie meer eenhede aan te koop as wat vir die spesifieke maand nodig is nie. Onthou dit is die hoeveelheid eenhede wat jy deur die loop van die kalendermaand aankoop wat gaan bepaal hoeveel jy betaal en nie die datum of die aantal kere wat jy die aankope doen nie. As jy meer aankoop as wat nodig is en dit dus na die nuwe kalendermaand oorgedra word, is die stelsel nie in staat om die ekstra krag wat jy die vorige maand aangekoop het na die goedkoper tarief om te skakel nie. Op watter klante is die bloktariewe van toepassing? Dit is op al Eskom se huishoudelike klante van toepassing. Dit beteken dat bloktariewe betrekking het op klante met voorafbetaalde meters sowel as klante met konvensionele meters.

As ’n klant gratis basiese elektrisiteit ontvang, word die gratis gedeelte ingereken en die bloktariefstelsel tree eers daarna in werking. Verbruikers wat deur plaaslike owerhede van elektrisiteit voorsien word, kan by die betrokke owerhede navraag doen oor of die blokstelsel ook op hul tariewe geld. Eskom se tariewe word op die webblad www.eskom.co.za uiteengesit, of skakel 08600 37566 as jy nog navrae het oor tariewe.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button