News

Eskom: Ons kan nie pa staan vir wanbetalende munisipaliteite nie

Eskom: Ons kan nie pa staan vir wanbetalende munisipaliteite nie

 

Eskom se aansoek om verlof tot appel teen regter Anthony Millar se vroeëre interim hofbevel in die Ngwathe en Lekwa munisipaliteite se kragstryd, is Maandag deur regter Millar toegestaan. Die Appelhof in Bloemfontein sal nou ’n beslissing moet maak, maar die Vaal River Development Association (VRDA) se regsverteenwoordigers sê hoewel verwag is dat die aansoek toegestaan sou word, Eskom steeds moet voldoen aan die interim bevel omdat verlof tot appel nie die werking van die interim bevel opskort hangende uitspraak nie.
Regter Millar se interim bevel het die kragreus verbied om verdere kragvermindering in Parys en Vredefort toe te pas.

Luidens die bevel moes Eskom ook binne vyf dae (wat verlede week verstryk het) sy tweede transformator by die Eskom-substasie in Parys herstel. Teen Vrydag se virtuele hofsitting vir die aanhoor van die aansoek om verlof tot appel, was die transformator nog nie herstel nie, wat in effek beteken dat Ngwathe steeds gedwonge rotasie beurtkrag kan toepas om oorlading van die Eskom transformator te voorkom.

Met voorsiening wat nou gemaak word vir toekomstige ontwikkeling van nagenoeg 2 000 erwe, stuur die dorp veral in die wintermaande op ‘n kragkrisis af met die 21MVA waarop Ngwathe en Eskom in 2008 ooreengekom het in sy kragvoorsieningsooreenkoms, wat lankal nie meer genoeg is om veral tydens verhoogde verbruik in die dorp se vraag te kan voorsien nie.
Ten spyte van Ngwathe se herhaalde versoeke om die Notifyable Maximum Demand (NMD) te verhoog na minstens 25MVA, steek Eskom viervoet vas en sê dat hy nie tevrede is dat die destyds aanvaarde afbetalingsplan deur Ngwathe (wat reeds R1,3 miljard aan die kragreus skuld), nagekom word nie.

Aanmanings om te betaal was daar vele tussen 2011 en 2018, maar geen aksie nie, behalwe boetes wanneer Ngwathe sy ooreengekome NMD oorskry het. Tot Mei vanjaar toe Eskom na skade by sy substasie weens oorlading, die kraan letterlik toegedraai het. Sou Ngwathe nou sy ooreengekome MVA oorsky, word die enkele werkende transformator summier deur Eskom afgeskakel. Vandaar die gedwonge rotasie beurtkrag wat die munisipaliteit self moes toepas

Die VRDA en die Lekwa Belastingbetalersvereniging sê egter betalende verbruikers kan nie nou gestraf word omdat die NMD oorskry word nie, terwyl dit vir jare, agterstallige skuld of te nie, toegelaat is met net ‘n boete. Boonop het adv. Danie Wijnbeek namens die VRDA aangevoer dat Eskom bloot sy bestaande infrastruktuur moet herstel wat reeds verligting sal bring vir Ngwathe se kragkrisis.

Maar nee sê Eskom – die kragreus kan hom nie laat lei deur ongelukkigheid van ‘n gemeenskap nie, en ook nie verantwoordelik gehou word vir kragvoorsiening sonder betaling nie.
Adv. Shangisha het vir Eskom aangevoer dat die kragreus wel sy kontraktuele ooreenkoms met die munisipaliteite nakom en dat verhoging van ‘n munisipaliteit se ooreengekome NMD vir wanbetalende munisipaliteite, met die interim bevel die agterdeur oophou vir munisipaliteite om hul uitkoms nou by howe te gaan soek. Hy het gesê die kragreus kan nie pa staan vir munisipaliteite se gebrek aan beplanning en wanbetaling nie.
Baie tyd en geld is nodig om hierdie wa uiteindelik vir Ngwathe se inwoners deur die drif te trek en is ’n beroep op inwoners gedoen om nie op te hou met bydraes tot die fondse wat vir die kragstryd gestig is.

Related Articles

Back to top button