News

Motordief: ‘Ek wou net die kar was’

Nou't jy alles gehoor!

VEREENIGING. – ’n Man wat agter die stuur van ’n ander man se motorvoertuig gespring het, daarmee weggejaag het en toe  40km verder die kar tydens ’n wilde jaagtog afgeskryf het, sê sy bedoeling was om die kar te was.

 

Isaac Mokwala het voor landdros Chris Kruger getuig dat hy aanvanklik gedink het die voertuig behoort aan ’n vriend van hom – ene “Vincent”. Nadat hy agter die stuur geklim en weggery het om die voertuig te gaan was, kon hy egter hoor hoe mense skree en sê dat hy die kar gesteel het. Volgens Mokwala het hy bang geraak aangesien hy hom nou klaarblyklik aan die verkeerde kant van die reg bevind het en aanhou ry. Hy was volgens sy weergawe vreesbevange oor wat mense met hom sou doen en kon nie reguit dink nie. Hy het toe beheer oor die voertuig verloor en dit het gerol. Mokwala is Maandag, 7 September in die streekhof in Vereeniging aan motordiefstal skuldig bevind. Landdros Chris Kruger het Mokwala se getuienis verwerp en gesê dat hy ’n “patetiese getuie” was. “Dit is baie selde wat ’n getuie geroep word om te kom getuig en jy hoor hoe sulke totale nonsens gepraat word.” Kruger het uitgewys dat Mokwala deurentyd vrae van die staatsaanklaer, Amukelani Rikhotso, ontwyk het en homself weerspreek het in sy verskillende weergawes oor die gebeure.

 
Harry Guys het langs die pad gestop om aartappels te koop. Toe hy weer sien jaag iemand met sy blou Nissan Almera weg. Foto: Verskaf

Harry Guys, die eienaar van die blou Nissan Almera, het getuig dat hy op die betrokke dag, 31 Mei, langs die pad in Dawn Park gestop het om ’n sakkie aartappels by ’n smous te koop en die sleutel in die aansluiter gelos het. Mokwala het glo in die voertuig ge spring, vorentoe gery, ’n U-draai gemaak en toe in die teenoorgestelde rigting weggejaag. Guys het getuig dat hy nie ’n poging aangewend het om die voertuig te stop nie, aangesien Mokwala baie vinnig gejaag het en hy nie homself in die pad van die voertuig wou plaas nie, aangesien dit gevaarlik sou wees. Justin Swanepoel, ’n werknemer van die voertuigopsporingsmaatskappy, het getuig dat hulle vir Mokwala opgespoor en hom toe met ’n voertuig en helikopter agternage sit het. Swanepoel het getuig hoe Mowala hom tydens die jaagtog ’n middelvinger gewys het. Kort daarna het Mokwala beheer oor die voertuig verloor en dit op ’n grondpad gerol. Guys het getuig dat dit “sy hart gebreek het” toe hy ná die tyd die skade aan sy voertuig gesien het. Die voertuig met ’n geraamde waarde van R45 000 het nooit weer gery nie. Kruger meen dat die staat bo redelike twyfel bewys het dat Mokwala hom skuldig gemaak het aan motordiefstal. Die saak is tot 12 Oktober uitgestel vir vonnisoplegging.

 
 

Related Articles

Back to top button