News

Wat de Vloek-woord?!

Wat de Vloek-woord?!

Glo dit of nie, maar die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en BlueTek Computers finansier tans navorsing wat oor vloek gedoen word.

Glo dit of nie, maar die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en BlueTek Computers finansier tans navorsing wat oor vloek gedoen word. Ja, jy het reg gehoor! Vloek is mos daardie woorde wat jy as kind gehoor het en geleer is om nié te sê nie.
Tog kan nie een persoon sê hy het nog nooit gevloek nie, want die skelwoorde “helleveeg”, “tierwyfie”, “soutie” en “wortelkop” val volgens vloeknavorsing ook onder die sambreelterm “vloek”, en jou mening oor dié woorde kan help om die taboewaarde daarvan vas te stel.

Prof. Gerhard van Huyssteen, dosent in taaltegnologie, en Afrikaans en Nederlands aan die Noordwes-Universiteit is die projekleier van die navorsingsprojek, Wat de Vloekwoord?! Multidissiplinêre navorsing en wetenskapskommunikasie oor vloek. Volgens hom is navorsing in vloek baie beperk juis omdat vloekwoorde ‘n taboewaarde het.
“Die doel van die projek is hoegenaamd nie om vloek aan te moedig of af te keur nie – dit is elke individu se eie keuse. Ons probeer om wedersydse respek vir mense se verskillende houdings hieroor te kweek en om eerder die fenomeen van vloek te beskryf sodat ons dit beter kan verstaan,” sê prof. Van Huyssteen.
Volgens hom kan die navorsing dalk vasstel hoekom sommige mense vloek en ander nie. Hoe sulke mense se denke, kultuur, psige, ens. van ander verskil.
Die navorsers wil ook vasstel hoe tegnologie ontwikkel of aangepas kan word om vir sulke uiteenlopende standpunte voorsiening te maak. Volgens prof. Van Huyssteen is dit byvoorbeeld belangrik dat daar in die veld van kunsmatige intelligensie tussen “gewone taal” en vloektaal onderskei moet word. Toepassings soos Alexa en Siri moet vloekwoorde kan herken wat slegs moontlik is as hierdie woorde in die programmatuur gemerk word.

“Vloek is ’n fassinerende verskynsel wat ons nie net diep insig in menslike kognisie en neurofisiologie gee nie, maar ook in sosiale interaksies en magsdinamika en dit het implikasies vir taalkunde, literatuurstudie, kommunikasiekunde, sielkunde, sosiologie, rekenaarwetenskap en die regte,” sê prof. Van Huyssteen.
Hy gesels oor die navorsingsprojek wat volgens hom “kleinskalig” in 2019 afgeskop het. “Ná ek etiekklaring by die Noordwes-Universiteit gekry het, asook ‘n eerste sarsie finansiering by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns en BlueTek Computers, kon die projek uiteindelik in 2020 meer formeel afskop. Dit is ‘n internasionale, interdissiplinêre projek met medewerkers op hierdie stadium in Nederland en Suid-Afrika. Die primêre medewerkers op hierdie stadium is Martin Puttkammer en Jaco du Toit (Sentrum vir Tekstegnologie, NWU), Janien Linde en Colette Combrink (vakgroep Afrikaans en Nederlands, NWU), Suléne Pilon en Mart-Mari van der Merwe (vakroep Afrikaans, Universiteit van Pretoria) en Elmarie Claassens (kliniese sielkundige, Johannesburg).

Hy sê hy het nog net positiewe reaksies vanuit die akademiese geledere gekry – ook van die NWU se bestuurslede. “Die rede hiervoor is waarskynlik omdat ander navorsers en akademici besef hoe min ons eintlik oor vloekgedrag weet, asook wat die toepassing van sulke navorsing op verskeie terreine kan wees.”
Hoewel navorsing nog nie voltooi is nie, noem prof. Van Huyssteen ‘n interessante feit oor mense se vloekgedrag op sosiale media – dat dit oënskynlik vir mense dikwels makliker is om ‘n vloekwoord in ‘n ander taal te gebruik as in hulle moedertaal en dat daar ‘n klomp unieke vloekkonstruksies in Afrikaans is. Deel van die navorsing is ‘n projekwebwerf, (vloek.co.za) wat geskep is om mense van die navorsingsprojek bewus te maak. As jy 18 en ouer is, registreer en gee jou samewerking dat die navorsers data kan versamel. Die webwerf kommunikeer ook op interessante maniere (soos podsendings, blogs, video’s en webinare) met die gemeenskap.
Die hoofmeningspeiling oor hoekom mense vloek, is vanaf 7 Augustus tot 31 Oktober op vloek.co.za beskikbaar. Een gelukkige persoon wat die vraelys invul, sal met ‘n kontantprys van R1 000 wegstap. Afrikaans.com gee ook elke maand pryse weg. Hulle fokus maandeliks op ‘n ander tema, byvoorbeeld op vloek in Afrikaanse musiek (September 2020), TV, rolprente en teater (Oktober) en publikasies (November).

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button