NewsNews

Talentvolle Franz sing manalleen ‘n hele koor se stemme

Talentvolle Franz sing manalleen ‘n hele koor se stemme

SASOLBURG. – Die begaafde sanger, pianis en koorafrigter, Franz Geldenhuys, se voetspore lê al lankal in verre lande soos Hongarye, Oostenryk, Spanje en Australië, maar sy wortels lê steeds diep in die Vaaldriehoek.

  Franz bied die afgelope drie jaar musiek as vak by Hoërskool Articon in Vaalpark aan, maar was die laaste vyf maande soos die meeste Suid-Afrikaners tot sy huis beperk. “Met die grendeltyd het dit al swaarder met ons kunstenaars gegaan, en nie net omdat ons brood en botter skielik weggeneem is nie,” sê hy. “Almal in die uitvoerende kunste, teaters, ateljees en tegniese spanne, voel die inperking baie erg. Alle optredes is gekanselleer, kore is gestop en privaatleerlinge kon nie hul lesse neem nie. ‘n Kunstenaar is so gebore dat die kunste in jou bloed is, en met die grendeltyd voel dit asof jou basiese reg om jouself te wees, weggevat is. Bietjie vir bietjie gaan daar iets dood binne jou,” sê Franz. Hy sê hy ervaar dit ook by leerders van Articon.
 
“Almal het ‘n kunstenaar in hulle wat deur die inperking gedemp is. Gelukkig is almal weer terug by die skool en kan ons weer die leerders bystaan en ondersteun in hul reis in die kunste. Ek is werklik bevoorreg om met die leerders te werk.” Aangesien skoolkore nog nie mag hervat nie, het Franz besluit om sy eie “eenmankoor” te stig en ‘n Covid-Koor CD te laat opneem waarop 12 van die mooiste koorwerke, ligte klassieke musiek sowel as geestelike liedere gehoor kan word. Wat dié CD so besonders maak, is dat Franz al die stempartye self sing. “Ek moes net kreatief raak om my kunstenaarsiel te voed.
 
Elke stem is net een maal in Gerhard Janse van Vuuren se studeerkamer opgeneem en daarna saamgevoeg. “Met die CD bring ek hulde aan al die kore en kunstenaars wat deur hierdie rowwe tyd moet gaan,” sê hy. Vivien Litch, ‘n plaaslike kunstenaar, was vir die omslag-ontwerp verantwoordelik. Franz is ‘n gebore Vanderbijlparker wat aan Hoërskool Transvalia skoolgegaan en aan die Technikon Pretoria se Operaskool studeer het. Hy het daarna ‘n diploma aan die International Voice Institute in San Francisco verwerf. Hy was begeleier van die destydse Suid-Transvaalse Jeugkoor, wat later die Colla Voce Jeugkoor geword het en het ook sy eie jeugkoor, Bel Canto, in die Vaaldriehoek gehad. Daarna was hy vir etlike jare begeleier van die Cantare Kinderkoor en het onder andere saam met die koor as solosanger in Oostenryk en Brittanje opgetree. Hy sonder ‘n optrede saam met 200 jong koorlede in die St. Stevens-katedraal as ‘n onvergeetlike hoogtepunt uit. Franz was die afgelope jare baie betrokke by die skryf en afrigting van revues en operettes en is ook ‘n gewilde beoordelaar by kompetisies en kunswedstryde. Buiten sy pligte by Articon en sy eie musiekateljee, is hy in normale omstandighede ook by die afrigting van Laerskool DF Malherbe en Hoërskool Suiderlig se kore betrokke.
 
* Musiekliefhebbers wat die unieke Covid-Koor CD teen R150 elk wil bestel, kan Franz WhatsApp by 076 256 5938 of stuur ‘n e-pos na Fzartscentre@gmail.com
 
https://vaalweekblad.com/72833/talentvolle-franz-sing-manalleen-n-hele-koor-se-stemme/
 

Related Articles

Back to top button