NewsNews

Parys kragstryd: Eskom span die kar voor die perde in

Gaan weer hof toe

 

 

Eskom het verlede Vrydag summier kennis van appél geliaseer teen regter Anthony Millar se interim hofbevel wat Eskom onder meer verbied het om verdere kragvermindering in Parys en Vredefort toe te pas. Dit op die laaste dag van die vyf dae wat Eskom luidens die hofbevel gegee is om sy tweede transformator in die Eskom-substasie in Parys te herstel.

Dié is teen Gazette se druktyd nog nie herstel nie.

Die kragreus het egter gou agtergekom dat hy die spreekwoordelike kar voor die perde gespan het, en Sondag eers aansoek om verlof tot appél gedoen, hoewel die stap voortydig is in geval van ’n interim bevel. Die aansoek om verlof tot appél dien vanoggend, Vrydag, 11 September om 08:30 voor waarnemende regter Millar. Regter Millar sal dan of die aansoek van die hand kan wys, of na ‘n vol bank in ’n plaaslike hof, of Appélhof in Bloemfontein kan verwys vir ’n regsbeslissing. Buitengewone omstandighede sal egter deur die partye bewys moet word, en kan die VRDA hom nou beroep op Artikel 18 van die Hooggeregshofwet om te vra dat die vroeëre interim bevel van regter Millar uitgevoer word, selfs met die aansoek om appel hangende. Die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum (VRDA) se saak is op dieselfde beginsels as die Lekwa Belastingbetalersvereniging teen Eskom gebring. Die VRDA en die Parys Gemeenskapsaksie gesamentlik onder die vaandel van die Vaal River Development Association het sy dringende aansoek teen Eskom, die Ngwathe Munisipaliteit, Nersa, die Vrystaatse premier, die LUR vir CoGTA en die minister van energiesake gebring om ‘n stokkie te steek voor wat gesê is Eskom se eensydige afdwinging van daaglikse rotasie beurtkrag vir Parys is. Hulle het naas die beurtkrag, ook met Ngwathe se aansoek vir die verhoging van sy sogenaamde maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening, of te wel die Notifyable Maximum Demand (NMD) gehandel.

Die verhoging van Ngwathe se NMD is tot dusver volstrek deur Eskom geweier. Eskom pas tans ‘n limiet van 21MVA toe terwyl die munisipaliteit se behoefte sedert die NMD-ooreenkoms bykans ‘n dekade gelede, vergroot het tot 25MVA. Volgens Eskom kan Ngwathe se aansoek om verhoging van die NMD nie outomaties goedgekeur word nie omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer en Eskom nie tevrede is dat die destyds aanvaarde afbetalingsplan deur Ngwathe nagekom word nie. ‘n Gewysigde afbetaalplan is in Desember 2019 deur Ngwathe se hoof finansiële beampte aan Eskom gestuur wat nie deur Eskom afgekeur, maar ook nie goedgekeur is nie. Gevolglik het Ngwathe Eskom se swye as aanvaarding van die plan vertolk, en dienooreenkomstig sy betaling gemaak. Hoewel daar tussen 2011 en 2019 aanmanings van Eskom se kant was dat Ngwathe sy skuld wat nou reeds R1,3 miljard beloop, moet betaal, en die hof by twee geleenthede in die verlede verhinder het dat Ngwathe se krag afgesny is, was daar nog nooit verdere aksie teen Ngwathe nie. Die hoofoorsaak van die daaglikse munisipale rotasie beurtkrag wat Parys en Vredefort ervaar het, het ontstaan uit Eskom se weiering om meer krag aan die munisipaliteit te voorsien as waarop in 2008 ooreenkom is. Sou Ngwathe sy ooreengekome MVA oorskry, skakel Eskom sy enkele werkende transformator by die Eskom substasie in Parys af om die transformator teen oorlading te beskerm. Die beginsel van Eskom om sy toerusting teen oorlading te beskerm, word ook in ander dele van die Vrystaat toegepas.

Adv. Danie Wijnbeek verskyn vir die Vaal River Development Association met Lou van Wyk as opdraggewende prokureur, saam met adv. Herman van Eeden SC en Andreas Peens namens die Lekwa Belastingbetalersvereniging.

* Eskom bevind hom al meer in lang hofgedinge om munisipaliteite te kry om hul agterstallige skuld te betaal. Verlede week het Eskom beslag gelê op die Matjhabeng-munispaliteit se bankrekening omdat dié munisipaliteit R3,4 miljard aan Eskom skuld. Matjhabeng op sy beurt het Maandag Eskom tot 17:00 die middag kans gegee om die beslaglegging op sy bankrekening te laat vaar en gesê dat hy wel Eskom betaal het, maar dat die geld wat oorbetaal is, verkeerd toegewys is. Eskom sê hy het al in 2014 ‘n hofbevel verkry om die Matjhabeng munispialiteit se bankrekening te vries. Matjhabeng bedien die Vrystaatse goudveld. Munisipaliteite in SA skuld Eskom reeds R32 miljard.  

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Check Also
Close
Back to top button