News

Ligte-leesstof: Handskoene vir Gerrie

Ligte-leesstof: Handskoene vir Gerrie

So ‘n paar seisoene gelede… Ma besluit om vir Gerrie, my serebraal gestremde neef, ‘n trui te brei. Kan ek haar Brakpan toe vat die 16de? Woensdag, 15 Junie toe verklaar Ma, “die trui is nog nie klaar nie.” Om ‘n deurnagsessie af te weer, stel ek toe voor ons ry eerder Saterdag. “Ons ry 10 uur,” sê Ma gistraand. “En ons gaan net die trui afgee,” voeg sy by, ingeval ek weer wil vasskop en kuier. “Ja Ma. Is reg Ma.”

Vanoggend staan ek 10 uur gereed, sleutels in die hand. Maar waar is Ma? Vind haar in die sitkamer, besig om so staan-staan ‘n tossel op die hoed vas te werk. “Ek gaan nou klaarmaak,” sê sy en ‘n halfuur later kan ons uiteindelik die pad vat.
Ek bestuur rustig, langs my sit Ma en brei. “Handskoene” sê sy.
Ons nader die casino, TomTom sê ek moet reguit aan. “Nee” sê Ma en bêre haar breiwerk, “draai af.”
Ek draai af links, regs, weer links, een oog op TomTom, dit lyk hy stem saam. “Draai weer links” sê Ma. “TomTom sê ek moet nog 1.7km aanry,” protesteer ek.
“Draai” sê Ma, “ek het hier grootgeword.”
“Draai weer” sê Ma net na die eerste draai. “Maar Ma, dis ‘n doodloopstraat!”
“Is nie,” stry sy, “ons het elke dag hier geloop. Weet jy hoe ver moes ons loop om hokkie te gaan speel?”
Ek vang ‘n U-draai op die stukkie verlate pad na nêrens.
“Miskien was ek verkeerd,” gee Ma toe. “Dis niks, draai hier regs.” TomTom sê links, maar Ma het in Brakpan grootgeword…

Ek verpes links, regs, links as daar ‘n reguit pad is, maar ons stop darem voor Elize se huis.
Die trui pas pragtig. Gerrie hou dit sommer aan. Ma gaan sit en trek haar breiwerk nader. “Ek brei gou sy handskoene,” sê sy. Twee ure later kuier ons baie lekker. Langs my klik-klik die naalde. Skielik word dit stil. Ek kyk… Ma is besig om verwoed die breiwerk uit te trek. Die rooi wol ‘n hele bergie op haar skoot. “Ek het vergeet ek moet die linkerhand brei” sê sy. “Regs is mos klaar.”
Ma begin van voor af brei, die linkerhandskoen die keer. Elize gaan maak nog koffie en ek gaan rook in die kombuis. Half vier help Ma om Gerrie se handskoene aan te trek. “Waar’s jou hoed? Ons moet foto’s neem.”

Elize staan nader om sy wolmus op te sit. “Nee man,” raas Ma. “Die naat moet agter wees,” en sy draai die mus reg. “Die naat?” rek my niggie se oë groot en begin lag.
Agter hulle vee ek en Riaan trane af, ons lag te veel. Gerrie staan soos ‘n koninklike terwyl sy tannie en ousus om hom skarrel om hom reg te kry vir die foto. Uiteindelik is die fotosessie agter die rug en Fransman (my ou motor) vat die pad huis toe. “Ek dink ek gaan vir hom blou handskoene ook brei,” sê Ma, “maar die keer maak ek dit klaar voor ons ry.”

Vaalweekblad-verslaggewer Gerda Bruinette.
Gerrie met sy rooi trui. Foto: Elize Nieuwenhuizen

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button