NewsNews

Huldeblyk aan Parys se “oom Harry”

Bekende in Vrystaatse onderwyskringe sterf op 94

“Hy was passievol oor die Afrikaanse Taal en was vir 12 jaar voorsitter van die Afrikaanse Studiekring in die Noord-Vrystaat. Hy was ook aktief betrokke by kerk- en kultuuraktiwiteite en het hom na sy aftrede ten volle daarin uitgeleef.”

  ‘n Bekende en geliefde oud-onderwysman van die Vrystaat, Harry Vorster (HSCA), wat vir jare in Parys gebly het en ook vroeër jare ingestaan het as proefleser by die Gazette, is op 28 Julie in Vaalpark oorlede. Hy was 94 jaar oud.

 

Oom Harry, soos hy bekend was, is op 17 Oktober 1925 op Zastron gebore. Hy het op Dewetsdorp gematrikuleer en vir twee jaar in die destydse labddroskantoor gewerk waar hy die Laer Staatsdiens-regseksamen met lof geslaag het en klerk van die hof geword het. Hy is in 1945 afgedank omdat hy nie ʼn ondersteuner van die Smuts-regering was nie. Sy oud-skoolhoof en die plaaslike dokter het aangebied om hom te ondersteun indien hy verder sou wou studeer. Só het hy in 1946 met sy onderwysstudie aan die destydse UKOVS (nou die Universiteit van die Vrystaat) begin. Hy was ʼn vurige Afrikaner en aktief betrokke by studente-aktiwiteite. Hy het spoedig lid van die studenteraad geword en is ook verkies tot voorsitter van die Afrikaanse Studentebond (die ASB).

 

In 1949 is hy aangestel as onderwyser/skoolhoof van Hoogte, ʼn plaasskool naby Heilbron. In 1950 trou hy met Annatjie en aanvaar ʼn onderwyspos op Harrismith. Hy het in dié tyd ook sy BA-graad deur Unisa voltooi. In 1958 is hy bevorder tot skoolhoof aan die Primêre Skool Swinburne, waar hy en Annatjie ook as koshuisouers aangestel is. Die jaar daarna aanvaar hy ʼn pos aan die nuwe Afrikaanse Hoërskool op Kroonstad en verwerf sy MA-graad in Afrikaanse Letterkunde aan Unisa. In 1963 is hy aangestel as visehoof en het hy ʼn onuitwisbare stempel op hierdie toonaangewende en dinamiese Afrikaanse skoolgemeenskap afgedruk. In 1972 het hy die pos as soolhoof aan die Hoërskool Taaibos naby Sasolburg aanvaar, waar hy aan die einde van 1985 afgetree het.

 

Harry en Annatjie het hulle daarna op Parys gevestig, waar hulle baie aktief op kerk- en kultuurgebied was. Harry het die pos as skribakassier van die NG-Gemeente Parys-Oos opgeneem – ‘n pos wat hy tot in 2000 met Annatjie se afsterwe, beklee het. In 2001 het hy in die huwelik getree met Elize Cilliers, ʼn weduwee en eertydse universiteitsliefde. Hulle het hul op Frankfort in die Oos-Vrystaat gevestig maar in 2010, op die ouderdom van 85, het hy na die Vaaldriehoek teruggetrek om by sy jongste dogter en skoonseun, Johan en Stef Esterhuizen, in Vaalpark te kom woon. Hy het in 2017 ʼn inwoner van Ons Gryse Jeug Versorgingsentrum in Sasolburg geword, waar hy tot met sy afsterwe gewoon het. Harry se gesin en kollegas onthou hom as ʼn sterk en dinamiese onderwysleier en baie van sy oud-skoliere kan daarvan getuig dat hy met sy positiewe invloed, rigtinggewend in hul ontwikkeling as gebalanseerde volwassenes was. Hy was vir baie jare lid van die hoofbestuur van die destydse onderwysersorganisasie OVSOV (tans SAOU) in die Vrystaat. Hy was ook hoofeksaminator in Afrikaans vir die Senior Sertifikaat-eksamen. “Hy was passievol oor die Afrikaanse Taal en was vir 12 jaar voorsitter van die Afrikaanse Studiekring in die Noord-Vrystaat. Hy was ook aktief betrokke by kerk- en kultuuraktiwiteite en het hom na sy aftrede ten volle daarin uitgeleef,” sê sy dogter Stef. “Hy was by uitstek ʼn gesinsman en nou betrokke by die versorging en verdere studie van sy familielede. Hy het werklik die kuns van die lewe verstaan.” Harry en Annatjie het vier kinders gehad: Johan Vorster, Chrisna Strydom, Etta Wheeler en Stef Esterhuizen, sowel as tien kleinkinders en vier agterkleinkinders. Hulle oudste dogter, Chrisna, is in 2001 oorlede. Weens die Covid-19 inperking sal ʼn gedenkdiens op ʼn later datum plaasvind.

 
https://vaalweekblad.com/72874/bekende-in-vrystaatse-onderwyskringe-sterf-op-94/
 
You can read the full story on our App. Download it here.

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button