News

Een van die 6 verdagtes van plaasaanval het boer goed geken

Een van die 6 verdagtes van plaasaanval het boer goed geken

Een van die verdagtes wat in hegtenis geneem is na die aanval op ’n boer van Muiskraal wat tien keer geskiet is en wonderbaarlik oorleef het, is welbekend aan hom.

.

Volgens mnr. André Marais (54) se vrou, mev. Elsie Marais, het hy op ‘n plaas twee plase van hulle af gewoon. “Ons is baie verbaas oor sy betrokkenheid, want hy was ‘n gereelde kliënt by ons winkel op Muiskraal en my man het in die verlede al baie goed vir hom gedoen. Ons het dit glad nie verwag nie,” het sy gesê.

Die polisie het twee dae na die aanval op mnr. Marais ses verdagtes in die vroeë oggendure in hegtenis geneem. Mnr. Marais is verlede Dinsdag, 25 Augustus beroof en tien keer geskiet toe hy omstreeks 18:00 na die tuinwerker, Amos Mahlaba (68), se sinkhuis gestap het om ondersoek in te stel nadat sy honde onbedaarlik begin blaf het.

Die tuinwerker is vroeër deur drie verdagtes oorval, vasgebind en met ‘n pistool aangehou. Nadat hulle mnr. Marais geskiet het, het hulle sy vuurwapen en mes geroof en in ‘n silwerkleurige Volkswagen Golf gevlug.

Kol. Adéle Myburgh, Noordwes polisiewoordvoerder, sê die Potchefstroom Dwelm-taakspan, Trio-taakspan, sekuriteitsmaatskappye en Carletonville speurders het saamgewerk nadat hulle inligting van die publiek bekom het. Dit het tot arrestasies by Khutsong, Oos-Driefontein en Muiskraal gelei.

Volgens kol. Myburgh is daar gedurende die operasie vier verdagtes na verskeie huise in Khutsong gevolg, waar hulle vir poging tot moord, diefstal van ‘n vuurwapen en die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie in hegtenis geneem is. Die polisie het tydens die arrestasies op drie vuurwapens en ‘n nagemaakte pistool (9 mm speelgoedpistool) beslag gelê.

Die ander twee verdagtes is op Oos-Driefontein gearresteer. Al ses verdagtes is tussen die ouderdomme van 30 tot 40 jaar. Die verdagte wat op Oos-Driefontein gearresteer is, is dieselfde 34-jarige man wat Dinsdagaand ná die skietery deur die boere langs die pad op Muiskraal aangekeer is. Hy was deel van die sameswering om mnr. Marais aan te val. Hy het gelieg toe hy hulle vertel het hy is vroeër die dag by Carletonville Mall beroof en ontvoer en deur drie mans in ‘n silwerkleurige kar in die omgewing van Muiskraal afgelaai. Hy het later ‘n vals verklaring by die polisie afgelê en word ook van meineed aangekla. Die silwerkleurige Volkswagen Golf waarmee die aanvallers gevlug het, is ook in sy besit gevind.

Die ses verdagtes het Vrydag, 28 Augustus in die landdroshof in Carletonville verskyn en staan tereg op aanklagte van die besit van ongelisensieerde vuurwapens en ammunisie. Hulle het Maandag, 31 Augustus ook in die landdroshof in Ventersdorp op aanklagte van poging tot moord verskyn.

Die polisie se provinsiale kommissaris, lt.genl. Sello Kwena, het almal wat by die operasie betrokke was,  vir hulle samewerking geprys. Hy het ook die sekuriteitsmaatskappye en boere bedank wat die polisie gehelp het. Hy het voorts gesê dat landelike veiligheid ‘n prioriteit vir die polisie is en dat hulle geen steen onaangeraak sal laat om oortreders vas te trek nie.

Marais is intussen vanaf Mediclinic Potchefstroom na die waakeenheid van die Netcare Sunninghill-hospitaal in Sandton oorgeplaas, waar hy ‘n derde operasie ondergaan het. Volgens mev. Marais het haar man ‘n aaromleiding gekry nadat die vorige twee operasies om die slagaar in sy regterbeen te heg, nie so suksesvol was nie. Sy sê haar man is baie gelowig en dat almal hom as ‘n liefdevolle mens ken wat altyd daar is vir almal. “Sy gemoed is rustig. Hy is nie kwaad vir die aanvallers nie. Hy kry hulle eintlik jammer, want dit moet verskriklik wees om met bloedgeld vir jou familie te sorg,” het sy gesê.

Hier is ‘n skakel na die oorspronklike berig:

Een van die 6 verdagtes van plaasaanval het boer goed geken

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button