News

Skande van ’n eens spog oord

Skande van ’n eens spog oord

 

Met inperking tydens die nasionale ramptoestand, het die realiteit van haweloses enorme uitdagings aan die regering gebied, en skiellik het dié tameletjie reg in die skoot van plaaslike regerings geval. Vir Parys is die Mimosa Tuine-saal as tydelike skuiling gereed gemaak vir die 22 haweloses wat hier versorg moes word. Aanvanklik het dit goed gegaan. Daar was toegangsbeheer by dié eens spog vakansieoord wat oor jare tot niks meer as ’n skande verval het.

Selfs bo-op die eertydse restaurant se dak word daar nou geslaap. 

Die skandelike verval van die eens pragtige Mimosa Tuine restaurant.

Etes is voorsien deur Rotary met die hulp van die Red Ribbon voedselprojek en die departement maatskaplike ontwikkeling. Selfs medikasie is gekontroleer om seker te maak daar word behoorlik na alle behoeftes ongesien van hulle wat hier ’n heenkome moes vind. Maar nie meer nie, word gesê. Sedertdien het die oord glo verval in ’n nes vir prostitusie, dwelmhandel en misbruik met na raming by die 40 mense wat in hierdie tyd skielik in die vervalle restaurantgedeelte, bo-op die restaurant se dak, en selfs in die erg verwaarloosde swembad hul intrek geneem het. Onderonsies onder van die haweloses het veroorsaak dat van hulle ook van die saal na die restaurant getrek het, en het die munisipaliteit oënskynlik beheer verloor oor wat op sy eiendom gebeur. Vir diegene wat hulle oor die haweloses moes ontferm met etes, het dit ’n onuithoudbare situasie geword. Skielik was daar soveel meer wat honger was, geen beheer en ’n broeiplek vir onwettige aktiwiteite midde in ’n woongebied.

Die Mimosa Tuine was ’n enorme geldelike inspuiting vir Parys vroeër jare, maar so lyk dit nou in wat eens die restaurant was en waarvan niks meer oor is nie.

Die situasie het genoop dat verteenwoordigers van die Ngwathe munispaliteit verlede Woensdag saam met Rotary, Red Ribbon, die SAPD, raadslede en ander rolspelers vergader het om na oplossings te probeer soek. Maar teen Gazette se druktyd was daar nog weinig antwoorde. Daar was steeds ses haweloses in die saal en vier in ’n chalet. Dit is nie seker hoeveel steeds oor is by die restaurantgedeelte nie, met die stukkende omheining wat steeds veroorsaak dat mense kom en gaan. Die vraag bly – met die land wat reeds onder vlak 2 inperkingsregulasies is, hoe lank daar nog op dié manier skuiling en etes aan hulle sonder heenkome gegee kan word? Vir sommige was dit ’n tussentuiste, met hul eindbestemming elders, maar waarheen nou en hoe lank voor daar plan gemaak word om by die eindbestemming te kom?

 Kartonafskortings wat haweloses opgesit het toe hulle hul intrek geneem het in die restaurantgedeelte van die Mimosa Tuine.

Wat van dié met maatskaplike en gesondheidsprobleme en waar pas die departement maatskaplike ontwikkeling in by die prentjie waar kwalik nog die munispaliteit, nog die departement antwoorde het, behalwe die belofte dat die sekuriteit opgeknap sal word. Die departement maatskaplike ontwikkeling het die week ’n opvolgvergadering gehou om die kwessies wat aangeraak is te bespreek, maar selfs die munisipaliteit kon nie sê wat die situasie tans by die Mimosa Tuine is nie.  

 

Related Articles

Back to top button