News

Beurtkrag: Verbruikers kan nie só gestraf word nie

Beurtkrag: Verbruikers kan nie só gestraf word nie

Eskom is Vrydag 28 Augustus, in die hooggeregshof in Pretoria verbied om verder kragvermindering in Parys en Vredefort (Ngwathe), en Standerton (Lekwa) in Mpumalanga, toe te pas deur gedwonge rotasie beurtkrag.

Danksy die hofbeslissing kan Eskom ook nie langer sy weiering om die maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (Notifyable Maximum Demand) aan die Ngwathe en Lekwa munisipaliteite aan te pas, as meganisme gebruik om dié munisipaliteite te dwing om hul agterstallige skuld aan die kragreus te betaal nie.

Regter Anthony Millar het beveel dat die kragtoevoer vir beide die Ngwathe en Lekwa munisipaliteite onmiddellik verhoog moet word na die vlak waar dit was voor begin is met gedwonge daaglikse kragvermindering. Regter Millar het ook in sy bevel gelas dat die kragreus vyf dae het om die ander beskikbare Eskom-transformator by sy substasie in Parys te herstel wat die kragreus vantevore aangedui het, nie gedoen sal word alvorens Ngwathe sy skuld betaal nie. Dit is dan ook die rede waarom dele van Parys dié week steeds rotasie munispiale beurtkrag gehad het, om die werkende Eskom transformator teen oorlading te beskerm totdat die herstelwerk aan die tweede transformater voltooi is. Die Vaal River Development Association (namens die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskaps Aksie) en die Lekwa Belastingsbetalersvereniging het hulle vroeër die maand na die hooggeregshof gewend met dringende aansoeke om ‘n stokkie te steek voor Eskom se eensydige afdwinging van munisipale beurtkrag wat inwoners soms tot ses en meer ure sonder krag gelaat het.

Die effek van die daaglikse beurtkrag is boonop vererger met nasionale beurtkrag wat bykomend tot die daaglikse munisipale beurtkrag toegepas is. Dit het ‘n vernietigende uitwerking op sakeondernemings, die plaaslike hospitaal, tehuise vir bejaardes, maar ook die gewone verbruiker gehad op wie se regte inbreuk gemaak word deur die afdwinging van die NMD-kontrak wat in Ngwathe se geval tien jaar laas aangepas is. Eskom het in die afgelope meer as twee maande ‘n limiet van 21MVA toegepas, terwyl die Ngwathe munisipaliteit se behoefte sedert die NMD-ooreenkoms vergroot het tot 25MVA. Hoewel aansoek gedoen is deur Ngwathe vir verhoging van die NMD, het Eskom voet by stuk gehou dat verhoging van die NMD nie outomaties goedgekeur kan word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer en Eskom nie tevrede is dat die destyds aanvaarde afgebetalingspan deur Ngwathe nagekom word nie.

Hoewel daar tussen 2011 en 2019 aanmanings van Eskom se kant was dat Ngwathe sy skuld wat nou reeds R1,3 miljard beloop, moet betaal, en die hof by twee geleenthede in die verlede verhinder het dat Ngwathe se krag afgesny is, was daar nog nooit voorheen verdere aksie deur Eskom teen Ngwathe geneem nie. Eers na ‘n ontploffing in Mei vanjaar in die beheerkamer van die Eskom-substasie weens oorlading, en die dorp toe vir dae sonder krag was, het Eskom na die herstelwerk wal gegooi en die munisipaliteit gedwing om sy kragverbruik binne die NMD te hou deur kragverbruik te bestuur met daaglikse rotasie beurtkrag. Sou Ngwathe dan sy ooreengekome MVA oorskry, het Eskom sy enkele werkende transformator by die substasie in Parys afgeskakel.

Regter Millar het in sy uitspraak daarop gewys dat die NMD daar is vir infrastruktuurbeplanning en nie om geldelike dispute op te los nie. Hy het ook daarop gewys dat die kwessie nie handel oor óf Eskom krag voorsien nie, maar óf daar genoeg krag voorsien word. In Parys het rotasie beurtkrag veroorsaak dat rioolafvalwater direk in die Vaalrivier ingeloop het weens pompe wat gestaan het tydens beurtkrag. Regter Millar het verwys na ‘n soortgelyke saak in 2018 toe daar ook beslis is inwoners kan nie gestraf word vir munisipaliteite se tekortkominge nie.

Die hooggeregshofbevel is onderhewig aan ‘n aansoek om Eskom se besluit om die NMD toe te pas te laat hersien en moet die hersieningsaansoek voor 30 Oktober ingedien word. Die Vaal River Development Association (VRDA) het sy aansoek teen Eskom, die Ngwathe Munisipaliteit, die nasionale elektrisiteitsreguleerder Nersa, die Vrystaatse premier, LUR vir CoGTA en die minister van energiesake gebring.

Regter Millar het ‘n bestraffende kostebevel toegestaan wat in effek beteken dat Eskom as eerste respondent, en Ngwathe as tweede respondent, gesamentlik en/of afsonderlik moet pa staan vir die hofkoste op die skaal soos tussen prokureur en kliënt. Hoewel Eskom nog teen die hofbeslissing kan appélleer, sal buitengewone gronde bewys moes word vir waarom die bevel herroep moet word.

Adv. Danie Wijnbeek en Siseko Salela het vir die Vaal River Development Association verskyn, met Lou van Wyk as prokureur van rekord, en advokate Herman van Eeden (SC), Danie Wijnbeek en Kgomotso Kabinde, met Andreas Peens as prokureur, namens die Lekwa Belastingbetalersvereniging.

* Na Maandagaand se rotasie beurtkrag sou die VRDA ’n aanmaning aan Eskom stuur om te hou by die vyf dae grasietyd vir die herstel van die transformator.

Related Articles

Back to top button