News

“Dis net die wheel alignment wat nog bietjie uit is”

Gesin se dankbaarheid na fratsongeluk

  As jy sien hoe die 4-jarige blondekop dogtertjie rondbaljaar en klim en klouter, kan jy kwalik glo deur hoeveel trauma sy die afgelope paar maande is. Dit was ‘n moeilike jaar vir die Riekert-gesin van Parys. Leonel se oupa is in die hospitaal opgeneem waar hy uiteindelik twee maande lank baie ernstig siek sou lê. Dae nadat hy in die hospitaal opgeneem is, is ook haar ouma gehospitaliseer. Na baie toetse is breinkanker by haar gediagnoseer en is sy op 22 Februarie oorlede, terwyl oupa steeds in die intensiewe sorgeenheid gelê het. Toe kom inperking en al die uitdagings wat daarmee saamgaan, maar min het die Riekerts geweet van die groot hartseer wat kort daarna sou volg. Op 2 Junie gebeur ‘n fratsongeluk waartydens Leonel met ‘n skêr in haar handjies val. Die skêr het haar wang gepentreer en ernstige skade aan haar linkeroog veroorsaak. Twee maande en drie operasies later kan Leonel se ouers, André en Mari, net getuig oor die wonder wat hulle die afgelope paar maande dag na dag beleef het. Omdat hulle nie ‘n mediese fonds het nie, was die groot vraag hoe red hul Leonel se ogie, want tyd was nie aan hulle kant nie. Maar mense se oop harte en die genade van die Here, het deure vir hulle oopgemaak. Binne twee dae nadat Gazette oor Leonel se ongeluk berig het en ‘n trustfonds vir haar behandeling begin is danksy prokureur Stefan Scheepers, is genoeg geld ingesamel sodat daar dadelik geopereer kon word op Leonel. Daar was ook genoeg fondse om te betaal vir haar opvolgbehandeling. ‘n Baie lang pad na herstel waarvan klein Leonel nog net aan die begin van die pad staan. Sedertdien moes dr. Bernard Wolff, die vitreo-retinale spesialis ook katarakte van die oog verwyder en ‘n lensoorplanting doen wat alles die gevolg was van die trauma as gevolg van die besering. Met die laaste doktersbesoek is gesien dat haar retina mooi geheg het en begin sy om weer haar sig in die oog terug te kry. Sy kan al tussen lig en donker onderskei en vir nou sal daar nie weer geopereer word nie. Elke ses weke is daar ‘n opvolg doktersbesoek by dr. Wolff om haar herstel te monitor, maar die oog sal vir nou tyd gegee moet word om self te herstel. In watter mate ookal Leonel se sig verbeter, sy sal ok wees. Die klein dapper kleutertjie het die trauma goed hanteer, al maak hospitaalmasjiene haar so bang. As jy nie weet van haar ongeluk nie, sou jy nooit kon raai dat Leonel se sig nie 100% is nie. Sy gaan normaal aan. Die enigste ding wat haar besering weggee is as sy nou en dan in ‘n muur sou vasloop of ‘n hoek mis. Maar dan spot haar gesin goedig met haar – “dis net die wheel alignment wat bietjie uit is.” Dit word somer en Leonel kan nie wag om weer te swem nie. En in die gesin se harte is oneindige dankbaarheid vir almal wat emosioneel, maar ook finansieel hulle die afgelope maande na Leonel se ongeluk ondersteun het. Elke boodskap, elke gebed, elke gebaar van omgee het hierdie gesin staande gehou.  

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button