NewsNews

Uitspraak ‘n oorwinning vir dorp se kragstryd

Einde aan dié gedwonge beurtkrag

 

Uitspraak ‘n oorwinning vir dorp se kragstryd

Danksy ‘n hofbeslissing in die Pretoriase Hoë Hof vandag, Vrydag 28 Augustus, sal Eskom se weiering om die  maksimum gekontrakteerde elektrisiteitsvoorsiening (Notifyable Maximum Demand) aan die Ngwathe munisipaliteit aan te pas, en gepaardgaande gedwonge daaglikse beurtkrag vir kragvermindering, nie langer as meganisme deur die kragreus gebruik kan word om Ngwathe en die Lekwa munisipaliteite te dwing om hul agterstallige skuld aan die kragreus te betaal nie.

Regter Anthony Millar het in sy bevel Eskom verbied om verdere kragvermindering in die dorpe Parys en Vredefort, sowel as Standerton in Mpumalanga, toe te pas. Hy het ook beveel dat die kragtoevoer vir beide die Ngwathe en Lekwa munisipaliteite onmiddellik verhoog moet word na die vlak waar dit was voor begin is met gedwonge daaglikse  kragvermindering.

Die Vaal River Development Association (namens die Parys Besigheids- en Ontwikkelingsforum en Parys Gemeenskaps Aksie) en die Lekwa Belastingsbetalersvereniging het hulle na die hooggeregshof gewend met dringende aansoeke om ‘n stokkie te steek voor Eskom se eensydige afdwinging van munisipale beurtkrag wat inwoners soms  tot 6 en meer ure sonder krag gelaat het. Die effek van die daaglikse beurtkrag is boonop vererger met nasionale beurtkrag wat bykomend tot daaglikse munisipale beurtkrag  toegepas is. Dit het ‘n vernietigende uitwerking op sakeondernemings, die plaaslike hospitaal, tehuise vir bejaardes, maar ook die gewone verbruiker gehad op wie se regte inbreuk gemaak word deur die afdwinging van die NMD-kontrak wat in Ngwathe se geval tien jaar laas aangepas is.

Eskom het in die afgelope meer as 2 maande ‘n limiet van 21MVA toegepas terwyl die Ngwathe munisipaliteit se behoefte sedert die NMD-ooreenkoms vergroot het tot 25MVA. Hoewel aansoek gedoen is deur Ngwathe vir verhoging van die NMD, het Eskom voet by stuk gehou dat verhoging van die NMD nie outomaties goedgekeur kan word nie, omdat die proses onderhewig is aan kredietbeheer en Eskom nie tevrede is dat die destyds aanvaarde afgebetalingspan deur Ngwathe nagekom word nie. Hoewel daar tussen 2011 en 2019 aanmanings van Eskom se kant was dat Ngwathe sy skuld wat nou reeds R1,3 miljard beloop, moet betaal, en die hof by twee geleenthede in die verlede verhinder het dat Ngwathe se krag afgesny is, was daar nog nooit voorheen verdere aksie deur Eskom teen Ngwathe geneem nie.

Eers na ‘n ontploffing in Mei vanjaar in die beheerkamer van die Eskom-substasie weens oorlading, en die dorp vir dae sonder krag was, het Eskom na die herstelwerk wal gegooi en die munisipaliteit gedwing om sy kragverbruik binne die NMD te hou deur kragverbruik te bestuur met daaglikse rotasie beurtkrag. Sou Ngwathe dan sy ooreengekome MVA oorskry, het Eskom sy enkele werkende transformator by die substasie in Parys afgeskakel om die transformator teen oorlading te beskerm. Regter Millar het nou gelas dat die ander beskikbare Eskom-transformator binne 5 dae herstel moet word, wat die kragreus vantevore aangedui het, nie gedoen sal word alvorens Ngwthe sy skuld betaal nie Regter Millar het in sy uitspraak daarop gewys dat die NMD daar is vir infrastruktuurbeplanning en nie om geldelike dispute op te los nie.

Hy het ook daarop gewys dat die kwessie nie handel oor of Eskom krag voorsien nie, maar of daar genoeg krag voorsien word. In Parys se geval het rotasie beurtkrag veroorsaak dat rioolafvalwater direk in die Vaalrivier ingeloop het weens pompe wat gestaan het tydens beurtkrag. ‘n Rivier waaruit inwoners ook hul drinkwater moet onttrek. Regter Millar het verwys na ‘n soortgelyke saak in 2018 toe daar ook beslis is inwoners kan nie gestraf word vir munisipaliteite se tekortkominge nie. Die hooggeregshofbevel is onderhewig aan ‘n aansoek om Eskom se besluit om die NMD toe te pas te laat hersien en moet die hersieningsaansoek voor 30 Oktober ingedien word.

Die Vaal River Development Association  het sy aansoek teen Eskom, die Ngwathe Munisipaliteit, die nasionale elektrisiteitsreguleerder Nersa, die Vrystaatse premier, LUR vir CogTa en die minister van energiesake gebring. Regter Millar het ‘n bestraffende kostebevel toegestaan wat in effek beteken dat Eskom as eerste respondent en Ngwathe as tweede respondent  gesamentlik en/of afsonderlik pa moet staan vir die hofkoste op ‘n skaal soos tussen prokureur en kliënt. Adv. Danie Wijnbeek het vir die Vaal River Development Association verskyn met Lou van Wyk as prokureur van rekord, en adv. Herman van Eeden  en Andreas Peens namens die Lekwa Belastingbetalersvereniging,

Dankie aan elke inwoner en sakelui wat bygedra het om die kragstryd uiteindelik na maande te kon besleg.  

Related Articles

Back to top button