News

Honde en Covid-19

Honde en Covid-19

Die spreekwoord sê: ‘n Hond is jou beste vriend. Honde het nou eenmaal ‘n bykans ongelooflike reuksintuig. Hulle het tot 300 miljoen olfaktoriese reseptore (reukreseptore) in hulle neuse, terwyl mense maar omtrent ses miljoen het. Die deel van die hond se brein wat reuke analiseer is in verhouding met dié van mense veertig keer groter. Dit is hierdie sintuig wat hulle so geskik maak om deur kondisionering opgelei te word om dwelms en plofstowwe uit te snuffel. Boonop is hulle uitstekende spoorsnyers. Honde word ook opgelei om siektes by mense op te spoor. Hulle kan byvoorbeeld malariaparasiete in kinders herken nog vóór die kinders siek word.

 

Daarbenewens het ondersoeke aangetoon dat hulle die sogenaamde Volatile Olfactory Compounds (VOC’s) wat veroorsaak word deur virusinfeksies, in mense kan opspoor. Die vraag was dus: Kan honde ook mense wat besmet is met die coronavirus identifiseer? Inderdaad! Verskillende ondersoeke is gedoen met positiewe resultate. Een so ’n ondersoek, wat uitgevoer is deur wetenskaplikes van die École nationale vétérinaire d’Alfort, het bevind dat honde kan onderskei tussen die sweet van coro-napasiënte en diegene wat nie deur die virus besmet is nie. Die honde ruik of mense besmet is selfs al toon hulle nog geen simptome van die siekte nie. Hierdie bevindings het gedien as voldoende bewys vir die Verenigde Arabiese Emirate, en hulle het besluit om honde wat sodanig opgelei is, by hulle lughawens te ontplooi. In navolging van dié ondersoeke, word honde nou wêreldwyd opgelei en hulle betroubaarheid om die siekte op te spoor, geverifieer. Die ondersoekers is hoopvol dat talle honde binnekort op lughawens ontplooi sal word.

 

Die voordeel is dat honde honderde mense per uur voorlopig kan ondersoek. Dié mense wat dan uitgewys word, kan verdere ondersoeke ondergaan al toon hulle nog geen simptome nie. Dit sou ook kon voorkom dat besmette mense ander passasiers aansteek as hulle vóór vlugte geïdentifiseer word. Volgens Liz Chaber wat in Australië Covid-19 honde afrig, is die gebruik van honde ‘n goedkoop, maklike, vinnige en aanvullende manier om moontlike Corona-gevalle te identifiseer wat van uiterste belang is as grense oopgestel word, en moontlik opeenvolgende golwe van Covid-19 tot gevolg kan hê. Lande wat spoedig afgerigte honde gaan inspan, is België, Brasilië, Chili en Argentinië.

 

(Bronnne: Caroline Kraaivanger, 31 Julie 2020. https://www.scientias.nl/covid-19-honden-gaan-aan-de-slag-op-vliegvelden/ ; https://www.pbs.org/wgbh/nova/article/dogs-sense-of-smell/ ; “ COVID-19 dogs could be sniffing out cases in months” – University of Adelaide; “Chiens de détection de la Covid-19 : des partenariats internationaux” – ENVA)  

 

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button