News

Boodskappe van hoop wapper in die wind

Boodskappe van hoop wapper in die wind

Gelukkig het Dinsdag, 4 Augustus die ideale weersomstandighede vir die Vaal Triangle Academy se jaarlikse vlieërdag gehad. ‘n Mens kon gedink het dis al lente. Op die oog af het dit windstil gelyk, maar dit was net grondlangs. Die kinders het gou besef as hul net so bietjie hardloop dan skep die vlieërs tog genoeg wind om hoog te vlieg.

Elke jaar is die kleure skouspel ‘n hoogtepunt op die skool se kalender en word daar geld ingesamel vir liefdadigheid. Dit gaan gewoonlik gepaard met ‘n uitreikaksie na die tehuis vir bejaardes waar die senior dogters oumas bietjie kan bederf vir Vrouemaand. Hierdie jaar het die pandemie en gepaardgaande inperkings hul planne in die wiele gery. Die skool het egter besluit dis een avontuur wat hul nie van die kinders gaan wegneem nie. Die dag is dus steeds met die nodige aanpassings gehou. Eers het die junior fase op die veldjie naby die skool hul beurt gehad, met genoeg juffrouens om seker te maak die kleingoed hou hul maskers op en hardloop in hul eie gebied.

 

Daarna het die Gr. 4s tot 7s ‘n kleurryke streep gevorm wat oor die pad stroom veld toe. Die opgewondenheid was groot. Van die kinders is duidelik ou hande as dit by vlieër vlieg kom. Hulle het sommer dadelik geweet, dis beter as een tou vashou en die ander een laat wiel met die vlieër in die hand. Die onnies het hul hande vol gehad om gekoopte vlieërs aanmekaar te sit, vlieërs vas te hou, toue op te rol en plek-plek self ‘n paar treë te hardloop om seker te maak ‘n jongeling se meesterstuk kry genoeg hoogte.

 

Algou was daar ‘n mengelmoes vlieërs van alle groottes in die lug. Die handgemaaktes van swartsak met plastieksaksterte het plek-plek veel hoër as die ander gegaan. Elke vlieër het ‘n boodskap van hoop opgehad wat die trotste eienaars self aangebring het. Meeste is ook versier met sterre, patrone en blinkers. Agter die maskers het hul oë geblink. Dit was goed om te sien hoe uitgelate die kinders rondgehardloop het, maar ook hartseer om te dink hulle het dit maande laas kon doen. Was interessant hoe die meeste outematies die sosiale afstand gehandhaaf het. Natuurlik het daar ‘n vlieër of wat in ‘n boom vasgesteek. Gelukkig het die grootste een ‘n kleiner boom gevind om aan te hak. Te hoog vir die jong eienaar en sy maats, maar binne bereik van die personeel  wat vinnig hand bygesit het. Die oggend se uitbundige vrolikheid het hierdie jaar se tema versterk – daar is altyd hoop! Aan die een kant van die veld was daar ‘n vrolike uitstalling van polistreen suigstokkies, paddastoele en kleurvolle vlaggies. ‘n Groen bord in die middel met kryt het die kinders die geleentheid gebied om hul eie gedagtes neer te pen. Uit die jong harte het daar vele boodskappe gekom van hoop en geloof in God, maar daar was twee sinne wat uitgestaan het… “We are all in this together” en “It won’t be like this forever.”

 
Oorspronklike berig: www.vaalweekblad.co.za
En soms moes die onderwyseresse ingryp om ‘n vlieër uit ‘n boom te red.

               

 

 

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button