NewsNews

Plaasaanval: Aanvaller doodgeskiet na hy boer voor kinders skiet

Plaasaanval: aanvaller doodgeskiet na hy boer voor kinders skiet

ʼn Gewapende aanvaller, Koane Potlaki (21), het Hennie Niemand (32), ʼn boer in die Oudedorp-omgewing, Vrydag (21 Augustus) geskiet en ernstig gewond nadat twee van sy plaaswerkers deur dieselfde aanvaller aangehou is.

Hennie het die skietvoorval oorleef, maar Koane is in die aanval dood nadat Hennie teruggeskiet het. Die skietery het voor Hennie se dogtertjie, Nina (3) en ‘n familielid se seun, Wimpie Nel (10), plaasgevind terwyl Nina in die bakkie gesit en Wimpie agterop die bakkie gestaan het.

Volgens die polisiewoordvoerder, lt. kol. Amanda Funani, het die voorval rondom 18:30 plaasgevind en hou dit verband met ʼn hofsaak waarin Hennie die getuie is van ʼn huisbraak waarby Koane verlede jaar in November betrokke was.

Hennie se pa, Hannes Niemand, het aan die Herald vertel dat Koane laatmiddag twee van hulle plaaswerkers ongeveer drie kilometer van hulle huis met ʼn wapen aangehou het terwyl hulle besig was om na beeskalfies om te sien.

Koane het die bakkie waarmee hulle gery het se wiel stukkend geskiet en het een van die werkers gedwing om Hennie te bel dat hy met die pap wiel moet kom help. Hennie en die twee kinders is toe uit na die twee werkers. Terwyl Hennie besig was om uit sy bakkie te klim, het Koane hom skuins deur sy bors geskiet. “Die werkers het vertel dat hy op sy knieë geval het en die bakkie se deur as skild gebruik het. Hy het sy wapen wat hy altyd by hom dra, gebruik en Koane onderdeur die deur geskiet” vertel Hannes. Koane is op die toneel dood.

ER24 is dadelik ontbied en het Hennie na ʼn privaathospitaal in Potchefstroom geneem waar hy tans aansterk. Hannes vertel dat Hennie se milt verwyder is en dat die koeël sy niere rakelings gemis het en dat hy gelukkig nie skade aan ander groot organe gekry het nie.

Hennie se vrou, Talitha, sê sy was geskok toe sy hoor haar man is geskiet en het dadelik op die groepe gebedsversoeke geplaas dat Hennie se lewe gespaar moet bly. “Dit is net God wat Hennie se lewe gered het. Hierdie voorval is ʼn bewys dat God groot is en goed is vir ons”, sê Talitha. Sy vertel dat Nina tans nie oor die voorval praat nie. “Wanneer ons haar oor haar pa uitvra sê sy net: ‘Pappa het seergekry. Hy gaan ʼn pleister by die hospitaal kry.”

Lt. Kol Funani sê ʼn saak is geopen waar ʼn geregtelike doodsondersoek, onwettige besit van ‘n vuurwapen en onwettige besit van ammunisie tans ondersoek word.

https://potchefstroomherald.co.za/77203/plaasaanval-aanvaller-doodgeskiet-na-hy-boer-voor-kinders-skiet/

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button