NewsNews

‘Kunstenaars’ maak Groenpunt-gevangenis mooi

‘Kunstenaars’ maak Groenpunt-gevangenis mooi

 

Die Groenpunt Gevangenis en sy “kunstenaars” het op ‘n kreatiewe manier nie net die gevangenes oor Covid-19 ingelig nie, maar terselfdertyd ook die gebied met kleurryke kunswerke opgehelder.

“Ons het op 24 Junie ‘n e-pos van hoofkantoor gekry met die voorstel om kunswerke oor Covid-19 teen die mure te laat verf. Dit het na ‘n goeie plan geklink omdat nie al die gevangenes toegang tot TV of koerante het nie. Sedert Maart mag hulle ook nie meer besoekers ontvang nie. Hulle was ook maar benoud oor die vreemde gevreesde siekte,” vertel Anita Hanekom, bestuurder: welsynwerk by dié gevangenis. “Daar is verlede jaar met kunsklasse vir die gevangenes begin. Dit was danksy Mattie Joubert, Erna Coleman en Elaine Erasmus van The Duif Art Centre. “Daar is toe reeds gevind dat van die gevangenes baie kunstig is en hoofkantoor se nuwe projek oor die virus kon dus vlerke kry. Weens die inperking moes die kunsklasse ongelukkig vir eers gestaak word, en dié was dus hul kans om ook weer hul kunstalente in te span. Die kunsgroep het toe begin met die groot taak.

 

“Daar was ongelukkig nie geld om kunsbenodigdhede aan te koop nie, so ons het gewerk met wat ek beskikbaar gehad het vir hulle. Die muur het egter die kwaste erg gerasper en ek moes ‘n paar keer kwaste aankoop,” vertel Anita. Daar is prente as voorbeelde vir die “kunstenaars” gegee. “Ek het hul soggens in die seksies gaan haal, so ‘n bietjie idees gegee wat om te verf en in my kantoor gaan werk. Teen namiddag het ek net gou weer na hul vordering gaan kyk. Hulle het in werklikheid op hul eie aangegaan,” sê ‘n trotse Anita. Volgens haar moet die terapeutiese voordele van kuns nie onderskat word nie. “Hulle is gemotiveerd en trots op hul werk,” sluit Anita af. Daar is ‘n nasionale kompetisie vir gevangenisse om hul mure met tekeninge oor Covid-19 te versier en dit lyk of Groenpunt sover voorloop. Die “kunstenaars” is oortuig dat hulle kan wen!

 
Een van Groenpunt Gevangenis se kunstenaars in aksie.
Mooi en kleurvol. https://vaalweekblad.com/71358/kunstenaars-maak-groenpunt-gevangenis-mooi/

Related Articles

Back to top button