NewsNews

Depressielyers en ongevraagde raad

Waag dit om te sê jy het depressie of enige ander gemoedsversteuring, en mense kyk jou skeef aan. Op sosiale media gee dit vir sleutelbordkrygers ‘n skatkis vol ammunisie om te (ver)oordeel, en dan kom hulle vorendag met die ‘beste’ ongevraagde raad en kommentaar. Goed soos, “maar jy het niks om oor depressief te wees …

Waag dit om te sê jy het depressie of enige ander gemoedsversteuring, en mense kyk jou skeef aan. Op sosiale media gee dit vir sleutelbordkrygers ‘n skatkis vol ammunisie om te (ver)oordeel, en dan kom hulle vorendag met die ‘beste’ ongevraagde raad en kommentaar. Goed soos, “maar jy het niks om oor depressief te wees nie.” Ja dankie Genius, asof ek nie al skuldig genoeg voel nie. Dis die groot grap van depressie, dit tref jou sonder rede en dit gooi jou lewe omver. Sonder rede. Soos wat mense siek word sonder rede.

Dan is daar die ander treffer. “Maak ‘n lysie van alles waarvoor jy dankbaar is.” Ai ja… ek is dankbaar vir alles, van die elektrisiteit in die huis tot by die gebruik van my kleintoontjie, maar depressie tref jou sonder rede. Soos wat mense siek word sonder rede. Dit het niks met dankbaarheid te doen nie.
Dan is daar die wyses onder die wyses, “dink net positief”. Die feit, oh Positiewe Een, dat ek enigsins regop staan, praat en loop asof ek niks makeer nie, verg positiewe denke ver bo jou begrip.

Of die goedgelowiges wat jou met die Bybel onder die arm kruisig… “Glo net meer. Bid net meer. Depressie is van die duiwel.” Regtig mnr. of mev. profeet, jy mag maar jou onkunde en vlak godsdiensredenasies vir jouself hou. Baie mense met gemoedsiektes soos depressie het al veel verder en dieper geloofspaaie gestap as wat jy ooit sal kan besef.
Woestynpaaie. Rou emosie, gebede en aanhou vasklou waar ander lankal sou opgee. Moenie vir ‘n depressielyer preek nie, want jy weet nie waarvan jy praat nie. En dan, die absolute cherrie op die oorversuikerde koek van onkunde. “Hou op om jouself so jammer te kry.” My liewe sieketrooster, as ek myself jammer gekry het, het julle al begrafnis gehou. As jy nog nooit depressie gehad het nie, sal jy nie verstaan nie. As jy al met depressie geworstel het, het jy tien teen een nie die krag om hierdie te lees nie.

Depressie skop jou plat op die vloer en maak alles moeiliker. Alles, van opstaan en tandeborsel tot glimlag en normaal lag en gesels tap energie. Jou fokus en konsentrasievlakke vergelyk goed met ‘n goudvis s’n. Jy maak foute wat jy nie voorheen sou maak nie. Jy kry net ‘n kwart van jou normale werk gedoen. Jy stres oor alles, want jy weet mense verstaan nie. Jy drink jou voorgeskrewe pille. Jy gaan sien jou sielkundige. Jou lewe bestaan uit skuldig voel en elke dag se maak asof jy ok is. Asof jy kan aangaan. Jou brein is in konstante gevegte met homself gewikkel. En jy, jy is moeg. Sielsmoeg. Fisies moeg. Emosioneel leeg. Jy wil net slaap en slaap en slaap. Maar slaap bring nagmerries. En jy weet, dis ‘n siekte wat lewenslank skaduwees gooi. Soms gee die depressie-monster jou ‘n blaaskans. Jy voel beter. Maar dis net skyn beterskap. Net nog ‘n manier om jou te verniel. Want dan slaan die tsunami jou weer plat. En jy staan weerloos daarteen terwyl almal se goedbedoelde raad jou net verder in stukkies maal.

Ek weet, want ek worstel met die siekte. Ek sê dit nie om jammer gekry te word nie. Allermins. Ek is van die gelukkiges, daar is lang tye wat die depressie my so ‘n tree of wat vooruit laat loop, die pille werk en ek die wêreld aan my voete het. Maar, soms word ek onverwags gepootjie, en dan tuimel ek weer kop eerste in daai donker gat af. Dis nie ‘n maklike pad nie. Dis nie lekker nie.
Dis ‘n bang, alleenpad om te stap of party dae te kruip totdat alles weer min of meer in balans en onder beheer is. Ek wil net hê dat as iemand wat jy ken depressie het, dat jy geduldig sal wees. Wees daar. Luister. En groot, groot asseblief, moenie raad uitdeel tensy jy nie ten minste ‘n geregistreerde, gekwalifiseerde psigiater of sielkundige is nie, en dan ook net as ek jou betaal.

Depressielyers en ongevraagde raad

Liezl Scheepers

Liezl Scheepers is editor of the Parys Gazette, a local community newspaper distributed in the towns of Parys, Vredefort and Viljoenskroon. As an experienced community journalist in all fields for the past 30 years, she has a passion for her community, and has been actively involved in several community outreach projects as part of Parys Gazette's team.

Related Articles

Back to top button